|

AfriForum pak gevaarlike slaggat in Thabazimbi

Die AfriForum-tak in Thabazimbi het die afgelope week die veiligheid van motoriste verbeter deur ’n gevaarlike slaggat op dié dorp te herstel en bosse te verwyder wat motoriste se sigbaarheid belemmer het. Hierdie werk is een van verskeie inisiatiewe wat die tak vandeesmaand aanpak as deel van AfriForum se landwye #HerstelEnVersnel-projek. Dié projekte sluit skoonmaakaksies, slaggatherstelwerk, opknapping van terreine en meer in.

Lede van die Thabazimbi-tak het die bosse en lang gras by die ingang van die dorp skoongesny. Dit verseker dat motoriste beter sigbaarheid het, wat die risiko van ongelukke aansienlik verminder.

Verder het die tak ’n reuseslaggat aan die besige hoek van Frikkie Meyerstraat en 10de Laan herstel. Die slaggat, wat ’n enorme hoeveelheid teer (800 kg) benodig het om te vul, het ’n ernstige gevaar vir motoriste en hul voertuie ingehou. Deur hierdie slaggat te herstel, het AfriForum ’n beduidende bydrae gelewer tot die verbetering van die padinfrastruktuur en die veiligheid van padgebruikers in die omgewing.

“AfriForum is trots op sy lede wat skouer aan die wiel gesit het om hierdie noodsaaklike werk te verrig,” sê Janine van Aardt, voorsitter van die AfriForum se Thabazimbi-tak. “Die veiligheid van ons gemeenskap is van die uiterste belang en hierdie projekte is ’n konkrete bewys van AfriForum se toewyding om ’n verskil te maak.”

Intussen wag die Thabazimbi-tak steeds op terugvoer van die munisipale bestuurder rakende die voorgestelde samewerkingsooreenkoms. Die ooreenkoms beoog om ’n formele vennootskap tussen AfriForum en die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit te vestig, waardeur AfriForum kan help met die instandhouding van kritieke infrastruktuur op die dorp. Die tak glo dat só ’n ooreenkoms tot voordeel van die hele gemeenskap sal strek en ’n volhoubare oplossing vir die uitdagings rondom infrastruktuurinstandhouding kan bied.

AfriForum se Thabazimbi-tak het elke inwoner se inkoop nodig om ’n daadwerklike verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings