|

AfriForum oor GOP: Vervalle toeristeaantreklikhede, infrastruktuur gaan Karoo-dorpe sink

AfriForum se plaaslike tak in die Karoo-distrik het skriftelike voorleggings aan die Siyancuma Plaaslike Munisipaliteit oorhandig vir insluiting in die munisipaliteit se 2025/2026 geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP). Hierin het die burgerregteorganisasie veral sy kommer uitgespreek oor die agteruitgang van talle toeristeaantreklikhede onder dié munisipaliteit se bestuur en die ernstige gevolge wat swak onderhoude fasiliteite en gebrekkige dienslewering op die res van die gemeenskap sal hê.

Talle toeristeaantreklikhede soos die gletservloere en die Douglas-vakansieoord is oor die jare heen erg verwaarloos. Hiermee saam word besoekers indirek ontmoedig om sommige van die dorpe onder dié munisipaliteit se bestuur te besoek weens veiligheidsgevare en ’n gebrek aan algehele netheid. AfriForum het onder andere voorgestel dat die munisipaliteit beter dierebeheer toepas, openbare ablusiegeriewe beskikbaar maak en onderhou en ook die sypaadjies van Douglas gereeld ontsmet.

Opgraderings aan plaaslike sport- en ontspanningsfasiliteite, wat tans gevaarlik en vervalle is soos die ou stadion en tennisbane in Douglas, sal ook meer voete na Campbell, Douglas, Griekwastad en Schmidtsdrif lok. Die plaaslike ekonomieë is egter aan die randjie van ineenstorting weens onvoldoende instandhouding aan die kragnetwerk in byvoorbeeld Douglas en Griekwastad. Bykans onrybare padinfrastruktuur, slegte stormwaterdreinering en onvoldoende straatbeligting is nie net ’n groot kopseer vir inwoners nie, maar ook deels die rede waarom al hoe minder toeriste in die gebiede oornag.

AfriForum is ook bekommerd dat plaaslike hospitale en klinieke nie meer aan die gemeenskap se basiese gesondheidsbehoeftes kan voldoen nie. Boonop is daar ’n gebrek aan beplanning en bestuur van informele behuising, handelaars en onwettige storting.

“As ’n gemeenskapsorganisasie is dit AfriForum se plig om toe te sien dat die belange van inwoners in Campbell, Douglas, Griekwastad en Schmidtsdrif verteenwoordig word en dat lewensgehalte en veiligheid vir almal verbeter word – insluitend diegene wat die mooie Karoo-dorpies wil besoek,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Ingevolge die Grondwet is dit die plig van munisipaliteite om gemeenskapsorganisasies in die GOP-proses te betrek. AfriForum het dus ook sy kommer uitgespreek oor die erge geraasbesoedeling, wat skynbaar geensins aangespreek word nie, die afwesigheid van spoedhobbels voor skole en die behoefte aan ordentlike parkering vir swaarvoertuie in Lochstraat in Douglas.

“AfriForum glo dat hierdie voorleggings konstruktief en noodsaaklik is vir die ontwikkeling en volhoubaarheid van hierdie dorpe. Die burgerregteorganisasie vertrou dat die munisipaliteit hierdie insette ernstig sal oorweeg en toepaslik sal insluit in die komende GOP,” sê Smit.

AfriForum onderneem ook om ’n volledige ouditverslag van stortingsterreine in Douglas en Griekwastad aan die munisipaliteit te oorhandig om te help met beplanning en begroting.

Soortgelyke plasings