AfriForum nader hof oor kwytskelding van Manguang-vullisverwyderingstarief
AfriForum het sy regspan opdrag gegee om hofstukke voor te berei om die aansoeke om kwytskelding van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se vullisverwyderingstarief te finaliseer. Meer as 700 mense het vroeër vanjaar kwytskeldingsaansoeke by die munisipaliteit ingedien sodat die tarief wat gehef word vir munisipale vullisverwydering van hul rekeninge verwyder word. Die aansoeke is kragtens die Mangaung-munisipaliteit se eie verordening vir afvalbestuur ingedien, wat voorsiening maak vir dié versoeke.
“Die munisipaliteit het lank genoeg verskonings gemaak vir die vrot dienslewering wat die gemeenskap vir moet opdok. AfriForum het die afgelope twee jaar gespook om terugvoer van die munisipaliteit af te ontvang rakende die kwytskeldingsaansoeke. Inwoners is raadop en kan nie voortgaan om dubbel te betaal vir basiese dienste net omdat die munisipaliteit nie daartoe in staat is om ’n volhoubare diens te lewer nie. Die burgerregteorganisasie het daarom besluit om hierteen op te tree,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof van die Sentraalstreek.
In AfriForum se hofstukke word daar versoek dat die hof die aansoeke om kwytskelding toestaan aan diegene wat van privaat vullisverwyderaars se dienste gebruik wil maak.
Die metro se verordening bepaal dat inwoners verplig is om die volle munisipale vullisverwyderingstarief te betaal, ongeag die mate waarin hierdie dienste gebruik word. Dieselfde verordening laat individue egter toe om skriftelik aansoek te doen vir kwytskelding van hierdie spesifieke bepaling. Die munisipaliteit behou diskresie oor die goedkeuring van sodanige aansoeke, maar tans staan dié proses stil.
Bloemfontein het die afgelope tyd weer deurgeloop onder swak dienslewering, waar vullis vir meer as twee weke lank nie in sekere areas verwyder is nie. Grobbelaar sê Bloemfonteiners hoef nie tevrede te wees met dié tipe dienslewering nie. AfriForum het sy eie vullisverwyderingsdiens op die been gebring, wat al sedert 2021 die diens volhoubaar aan inwoners lewer. Die burgerregteorganisasie het ook in Februarie vanjaar ’n vullisverwyderingsvragmotor ingespan om nóg meer vullis te verwyder.
“AfriForum sal die stryd voortsit sodat inwoners nie verder dubbel hoef te betaal vir dié belangrike diens nie,” voeg Grobbelaar by.
Bloemfonteiners wat van AfriForum se dienste gebruik wil maak kan www.vullisverwydering.co.za besoek vir meer inligting of hier klik om die proses om kwytskelding van die munisipale vullisverwyderingstarief te begin.