AfriForum maak Bethal, Secunda stuk-stuk beter ondanks weerstand
AfriForum se Bethal- en Secunda-takke het weer in Julie verskeie gemeenskapsprojekte voortgesit in ’n poging om die twee dorpe te verbeter. Dit het egter nie die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gekeer om ’n stokkie voor dié bedrywighede te probeer steek nie. Ondanks die munisipaliteit se pogings het die takke voortgegaan om stopstekens op te rig, tuinvullis te verwyder en slaggate te herstel. Die Bethal-tak het selfs honderde duisende liter water aan inwoners aangedra, terwyl die Teks (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda)-buurtspan hiasinte uit ’n openbare dam verwyder het.
In Bethal het AfriForum se buurtspan die gras oorkant en agter die Bethal-polisiestasie gesny. Die area agter die selle is gereeld oorgroei met digte grasse. Die buurtspan het die area skoongesny en meer as 60 sakke vullis verwyder. Verder het die span in samewerking met Bluegum Country Lodge 70 sakke asfalt gebruik om slaggate in Lakesiderylaan te herstel.
Daar is ook twee stoptekens by die kruising op Malherbe- en Tsibitsa Sibanyonistraat opgerig. Die stoptekens wat in Malherbestraat verkeer moet reguleer is vermis en die buurtspan het nuwe stoptekens opgerig om die kruising te beveilig. Die projek is bykans in die wiele gery deur die munisipaliteit, wat meen dat AfriForum eers toestemming moes kry om die lewensbelangrike stoptekens te vervang.
“AfriForum voer al etlike jare projekte soos dié in Bethal uit sonder klagtes van die munisipaliteit. Die burgerregteorganisasie het daarom ’n skrywe aan die munisipale bestuurder gestuur om klaring te kry oor die situasie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
“Hierdie voorval dien egter as bewys dat die munisipaliteit nie ernstig is oor dienslewering nie. Terwyl inwoners in vervalle dorpe bly en hul lewens op gevaarlike paaie moet waag, is daar haarklowery oor die oprigting van padtekens wat verkeer moet reguleer. AfriForum sal daarom voortgaan met sy verskeie gemeenskapsprojekte, wat daarop gemik is om die gebied te beveilig en te verbeter.”
AfriForum se Bethal-tak het juis tydens ’n onlangse wateronderbreking saam met boere om Bethal gewerk om meer as 380 000 liter water aan skole, tehuise en noodwaterpunte te versprei. Meer as 1 miljoen liter water is sedert die aanvang van 2026 afgelaai en aan inwoners versprei.
Die Teks-buurtspan het ook in samewerking met die Groenstrook Gabbas ’n projek van stapel gestuur om die Eende-dam in Secunda skoon te maak. Daar is met behulp van ’n vervoerband meer as 400 vragte hiasinte uit dié dam verwyder. Groenstroke is ook in Nelson Mandelarylaan, asook in Paardekraal-, Vaalrivier- en Frankfurtstraat gesny en skoongemaak. Meer as 16 000 vierkante meter is opgeruim gedurende die maand. Die Teks-span gaan ook binnekort met die herstel van slaggate begin.
“Ons kan nie net toekyk hoe die dorp agteruitgaan nie, daarom doen AfriForum se spanne iets om die verval teen te werk,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.
Sluit aan en ondersteun AfriForum. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



