AfriForum lê klem op dienslewering in GOP vir nuwe finansiële jaar
AfriForum se Bo-Karoo-tak het op 26 Mei amptelik skriftelike kommentaar ingedien op die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) van die Renosterberg Plaaslike Munisipaliteit vir die 2025/2026 finansiële jaar. Hierdie insette sluit hoofsaaklik probleme en aanbevelings rakende swak dienslewering vir Petrusville, Philipstown, Phillipsvale en Vanderkloof in.
“Ons voel genoodsaak om saam met die munisipaliteit te werk om noodsaaklike verbeterings in ons gemeenskappe te verseker. Basiese munisipale dienste het in verskeie dorpe drasties versleg,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
AfriForum het in sy kommentaar die volgende probleme in Petrusville, Philipstown, Phillipsvale en Vanderkloof onder die Renosterberg-munisipaliteit se aandag gebring:
- Kragtoevoer: Gereelde kragonderbrekings as gevolg van verouderde infrastruktuur het ’n negatiewe impak op huishoudings, ondernemings en plase. ’n Opgradering en deeglike instandhouding van die elektriese netwerk word dringend versoek.
- Ruimtelike beplanning: ’n Gebrek aan formele beplanning bemoeilik behuising en toegang tot dienste. AfriForum dring aan op die implementering van ’n ruimtelike ontwikkelingsraamwerk.
- Begraafplase: Die swak toestand van begraafplase vereis onmiddellike aandag en befondsing in die begroting.
- Straatligte: Die installering van sonkragstraatligte word voorgestel om veiligheid te verbeter en langtermynkostes te verlaag.
- Afvalbestuur: Vullisterreine voldoen nie aan minimum standaarde nie en moet opgegradeer word in ooreenstemming met omgewingsgesondheid.
- Parke en openbare ruimtes: Gebrekkige instandhouding en veiligheid maak parke onbruikbaar vir inwoners. Regulering en gereelde instandhouding is noodsaaklik.
- Padinfrastruktuur: Paaie is gevaarlik met talle slaggate en min padtekens of spoedhobbels. Onmiddellike herstelwerk en duidelike padmerke is nodig.
- Netheid en openbare geriewe: ’n Gebrek aan skoonmaakdienste en openbare toilette benadeel inwoners se gesondheid en waardigheid. Die gereelde skoonmaak van toiletgeriewe en die oprigting van veilige, skoon toilette word sterk aanbeveel.
AfriForum verwys ook na die toepaslike wetgewing wat vereis dat gemeenskappe betrek word by die beplanning en monitering van die GOP. “Ons hoop dat hierdie bydrae nie net oorweeg sal word nie, maar sal dien as beginpunt vir werklike verbeterings in dienslewering,” sluit Smit af.