|

AfriForum laat SA’ners se stem hoor oor Eskom se buitensporige kragtarief

AfriForum het vandag aan Gauteng se openbare raadplegingsessie oor Eskom se voorgestelde kragtariefverhoging deelgeneem en daarop gewys dat daar nie van kragverbruikers verwag kan word om ’n styging van 36,15% te aanvaar om die jarelange wanbestuur van die kragverskaffer reg te stel nie. Eskom het sy voorgestelde tariefverhoging vir die volgende drie jaar aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) voorgelê. Die publiek het tot vandag gehad om kommentaar daarop te lewer. AfriForum het in sy formele kommentaar, wat vandag voorgelê en ingedien is, dié buitensporige tariefverhoging teengestaan.

AfriForum se voorlegging onderstreep die ernstige ekonomiese en maatskaplike gevolge van Eskom se voorgestelde tariefverhoging en beklemtoon hoe die beplande kostes kwesbare gemeenskappe, veral lae inkomste-huishoudings, wat reeds ’n groot deel van hul inkomste aan elektrisiteit bestee, buitensporig sal belas. Boonop is stygende elektrisiteitskoste die dryfveer van koste-inflasie, wat die prys van noodsaaklikhede verhoog en armoede en ongelykheid vererger.

“Daar kan nie toegelaat word dat verbruikers met hierdie onregverdigbare verhoging belas word nie, veral nie wanneer dit die gevolg is van die growwe wanbestuur van Eskom oor die afgelope paar jaar nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake.

AfriForum het ook sy kommer uitgespreek oor Eskom se ondoeltreffendheid en ernstige bestuursmislukkings. “Nersa moenie net strenger nakoming van regulatoriese raamwerke afdwing nie, maar moet self ook omsigtigheidstoetse by Eskom doen, wat sal verseker dat wettige uitgawes slegs by die tariefberekeninge ingesluit word,” voeg Mostert by. 

AfriForum het as deel van sy ​​pogings om die voorgestelde tariefverhoging teen te staan, ook ’n petisie met talle ondertekenaars by die openbare raadplegingsessie ingedien. AfriForum sal die uitkoms van hierdie proses noukeurig moniteer en optree indien daar onbillike gebruike en wanpraktyke opgemerk word.

Soortgelyke plasings