Minister se kop moet rol ná jongste ouditeur-generaal-verslag
Deur Megan Swart
Pemmy Majodina, minister van Water en Sanitasie, se versuim om die nodige stappe te doen om die ernstige agteruitgang van die land se waterinfrastruktuur te stuit, is in die kollig geplaas met die bekendmaking van die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag oor dié staatsdepartement se prestasie in die 2025/2026-boekjaar.
AfriForum se bestuurder van Omgewingsake, Lambert de Klerk, voer aan dat Majodina uit haar pos onthef moet word, aangesien die swak bestuur wat in hierdie verslag uitgelig is, wys op ’n ernstige verdieping van die land se waterkrisis.
Die verslag het onder meer onthul dat die hoeveelheid geld wat bestee is en die hoeveelheid werk wat werklik afgehandel is nie met mekaar strook nie. Die departement het bykans 98% van sy begroting van R23,38 miljard in die betrokke boekjaar bestee, maar slegs 57% van die jaar se prestasieteikens met betrekking tot waterhulpbronbestuur en waterdienste ten volle bereik.
“Projekte wat deels voltooi is, kan nie as verweer gebruik word vir die lae nakoming van hierdie prestasieteikens nie. Dit beteken slegs dat water- en sanitasieprojekte reeds meer kos as wat dit moet, in die toekoms verder in die departement se begroting gaan delf en gemeenskappe nog langer sonder skoon water en funksionerende waterinfrastruktuur gaan laat,” sê De Klerk.
Die departement het boonop sy jaarlikse teiken vir damveiligheidsevaluerings met 34 evaluerings misgeloop, wat beteken dat slegs ses veiligheidsevaluerings voltooi is. Verder was rehabilitasiewerk by die Casteeldam in Mpumalanga en die Mthathadam in die Oos-Kaap teen jaareinde steeds op 0% teenoor die beplande vordering van 25%. De Klerk meen dat hierdie bevindings vrae wek oor die tydige identifisering en bestuur van infrastruktuurrisiko’s.
Water- en rioolstelsels swak of kritiek
Die departement se eie opsomming van die blou-, groen- en geendruppelverslae toon dat 107 munisipaliteite se drinkwater- of afvalwaterstelsels in ’n swak of kritieke toestand is. Daar is selfs 96 aktiewe strafregtelike sake teen munisipaliteite weens rioolbesoedeling, waarby 53 waterdienste-owerhede betrokke was.
Verder is nie een van die sewe grootmaatrioolprojekte wat die departement beplan het, voltooi nie. Langdurige vertragings, onbevoegde kontrakteurs, kontantvloeiprobleme en tegniese uitdagings is sommige van die redes waarom hierdie belangrike projekte nie afgehandel is nie.
Slegs 67 van die 166 beplande kleinskaalse waterinfrastruktuurprojekte is ingevolge die betrokke jaarlikse prestasieteiken voltooi. Dit terwyl slegs 307 van die 401 beplande projekte wat tans onder konstruksie is, volgens die betrokke prestasiemaatstaf gevorder het.
“Die bevindings maak dit duidelik dat die departement ernstige uitdagings ervaar met betrekking tot die instandhouding van water- en rioolinfrastruktuur én dat waterdienste geensins op ’n tydige en doeltreffende manier aan gemeenskappe gelewer kan word nie,” sê De Klerk.
“Gemeenskappe kan egter nie aanhou om die prys te betaal vir die staat se versuim om kritieke infrastruktuur behoorlik te bestuur en in stand te hou nie. Die minister en die betrokke amptenare wat jaar op jaar bloot hul skouers optrek en versuim om met werkbare oplossings vorendag te kom, moet die gevolge van hul mislukkings dra. Daarsonder sal die toestand van die land se water- en rioolinfrastruktuur verder versleg en burgers nog verder in die waterkrisis dompel.
“Die ouditeur-generaal het die probleme duidelik uitgewys, nou is die tyd om haalbare planne te maak om te verseker dat burgers veilige en betroubare watervoorsiening het met infrastruktuur wat behoorlik funksioneer.”



