|

99 uit elke 100 vuurwapenmoorde gepleeg met onwettige vuurwapens

Deur Ilze Nieuwoudt

Nagenoeg 99% van alle moorde wat die afgelope vier boekjare met vuurwapens in die land gepleeg is, is met onwettige vuurwapens gepleeg. Dié onthulling deur Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie, bevestig volgens AfriForum onteenseglik dat die krisis ten opsigte van moorde wat met vuurwapens gepleeg word, deur onwettige vuurwapenbesit aangevuur word. Ondanks dié feit word wettige vuurwapeneienaars egter steeds geteiken deur middel van strenger wetgewing. Hier is vyf skokfeite oor onwettige vuurwapenbesit in Suid-Afrika.

  1. Sowat 40% van alle moorde is met onwettige vuurwapens gepleeg

Uit die 23 096 moorde wat in die 2025/2026-boekjaar gepleeg is, is 41% met vuurwapens gepleeg. Die oorgrote meerderheid – oftewel 40% van alle moorde – is boonop met onwettige vuurwapens gepleeg.

2. Wettige vuurwapens is in minder as 1% van vuurwapenmoorde gebruik

Slegs 75 van die vuurwapenmoorde in 2025/2026, oftewel 0,8% van dié moorde, is gepleeg deur die wettige eienaar van ’n wettig gelisensieerde vuurwapen.

3. Gesteelde polisie-, weermag- én metropolisiewapens word ingespan in moorde

In die 2025/2026-boekjaar is vuurwapens wat oorspronklik aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Metropolisie behoort het, in 46 moorde gebruik.

4. Nagenoeg 5 500 onwettige vuurwapens word jaarliks gekonfiskeer

Luidens die SAPD se jongste beskikbare misdaadjaarverslag vir 2024/2025 is ’n totaal van 16 457 gesteelde of verlore vuurwapens teruggevind in die drie boekjare vanaf 2022/2023 tot 2024/2025. Dit kom neer op ’n gemiddeld van 5 486 vuurwapens per jaar.

5. Meer as 7 100 vuurwapens word per jaar gesteel

Volgens die SAPD se 2024/2025-misdaadjaarverslag is ’n totaal van 7 178 in dié betrokke boekjaar gesteel, terwyl ’n verdere 717 as verlore aangemeld is. Meer as 31% (2 233) van alle gesteelde vuurwapens is in Gauteng gesteel, terwyl 23% van gesteelde wapens in KwaZulu-Natal gesteel is in dié tyd. Slegs 678 van die vuurwapens wat in 2024/2025 gesteel is, is in dié boekjaar weer teruggevind – dit kom neer op ’n herwinningskoers van net meer as 9%.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, meen die jongste syfers, soos onthul deur die minister, wys onteenseglik dat die krisis ten opsigte van moorde wat met vuurwapens gepleeg word, deur onwettige vuurwapenbesit aangevuur word.

“Die syfers weerlê die argument dat strenger beperkings op wetsgehoorsame vuurwapeneienaars die antwoord op die land se geweldsmisdaad is,” verduidelik Broodryk. “As die regering werklik geweldsmisdaad wil bekamp en lewens wil red, behoort die bekamping van onwettige vuurwapenbesit, georganiseerde misdaad, vuurwapensmokkelary, vuurwapendiefstal en korrupsie binne die staatsdiens geprioritiseer te word. Die ideale van misdaadbekamping gaan nie bereik word deur die implementering van nóg regulatoriese laste op verantwoordelike burgers wat reeds aan streng bevoegdheids- en lisensiëringsvereistes voldoen nie.”

“Die ontwapening van verantwoordelike burgers gaan nie misdadigers ontwapen nie. Dit gaan slegs wetsgehoorsame burgers meer weerloos laat, terwyl gewelddadige misdadigers steeds vrye toegang tot onwettige vuurwapens het,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings

Veiligheid