AfriForum gaan Appèlhof toe oor Mogale City se belaglike kragtariewe
AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die Hoogste Hof van Appèl te nader oor die buitensporige verhoging in elektrisiteitstariewe wat die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit middel laasjaar ingestel het. Dit volg ná die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria AfriForum se aansoek om verlof tot appèl verlede week van die hand gewys het. In die eerste hofuitspraak in Februarie het die hof in die munisipaliteit se guns beslis en aangevoer dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) as ’n party tot die saak gevoeg word. AfriForum het ’n aansoek om verlof tot appèl teen hierdie uitspraak gebring maar die hof wou weereens nie toegee nie.
“AfriForum is van mening dat NERSA nie ’n direkte belang by die saak het nie en dat NERSA se belange nie benadeel sou word, indien die hof in AfriForum se guns sou beslis nie,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.
Die saak spruit voort uit die munisipaliteit se besluit om stygende bloktariewe te implementeer sonder om die publiek die geleentheid te gun om hierdie nuwe tariefstruktuur by die jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) se openbare verhore te betwis. Die munisipaliteit het in die verlede ’n vaste tariefstruktuur toegepas, maar tydens verlede jaar se openbare verhore bloot ’n 12,7%-verhoging aangekondig en nooit die instelling van die stygende bloktariefstruktuur genoem nie. Met hierdie struktuur het tariewe op sekere gebruiksvlakke tot byna 30% gestyg.
“Die implementering van hierdie tariefstruktuur het enorme finansiële druk op inwoners en plaaslike ondernemings geplaas. Dit is onaanvaarbaar dat verbruikers onregmatig belas word met tariewe wat nie eens aan wetlike riglyne voldoen nie. AfriForum nader daarom die Appèlhof want dit kan onder geen omstandighede toegelaat word dat munisipaliteite wanvoorstellings tydens openbare verhore maak en daarna agter toe deure in raadsvergaderings iets heeltemal anders implementeer nie,” sê Steffens.
Mogale City voer aan dat NERSA hul tariewe en die nuwe tariefstruktuur goedgekeur het, daarom kon hulle voortgaan om ander tariewe as dít wat aan die publiek voorgelê is, te implementeer. “Hierdie argument maak dit amper erger – dit beteken dat die munisipaliteit aansoek gedoen het vir ’n nuwe tariefstruktuur, reeds die syfers daarvan bymekaar gehad het maar gekies het om vir die gemeenskap te jok en iets ander voor te lê,” sluit Steffens af.