AfriForum en Metsimaholo-munisipaliteit sê onwettige ontwikkelings die stryd aan
’n Afvaardiging van AfriForum en die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit het verlede week vier persele in Sasolburg besoek waar hoëdigtheid-behuising onregmatig opgerig is. Geen van die persele het goedgekeurde grondgebruiksregte of bouplanne nie. Die jongste besoeke was ten doel om die munisipaliteit se verordeninge en die relevante wetgewing in verband hiermee, af te dwing.
Hoewel die afvaardiging nie toegang tot een van die persele kon verkry nie, is die eienaars van elk van die drie ander ontwikkelings wel deur die munisipaliteit in kennis gestel om konstruksie te staak. In gevalle waar die bouery nog aan die gang was, het AfriForum en munisipale amptenare dit onmiddellik stopgesit. Waar moontlik, is die kragtoevoer ook afgesny. Die eienaars is 30 dae gegee om aan die munisipaliteit se verordeninge en relevante wetgewing gehoor te gee.
“AfriForum plaas deurlopend druk op die munisipaliteit om hierdie saak met die nodige dringendheid te hanteer ten einde die integriteit van die gemeenskap te beskerm,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
“Daar bestaan ’n ernstige moontlikheid van oorbevolking, wat net verdere druk op die gebied se bestaande water-, riool- en kraginfrastruktuur sal plaas. By een van die ontwikkelings is 11 mense reeds woonagtig. Indien daar toegelaat word dat die ander ontwikkelings onregmatig voortgaan, gaan die las op infrastruktuur net verder verhoog.”
AfriForum sal voortgaan om as waghond optree, die plaaslike regering die nodige bystand te bied en terselfdertyd te verseker dat die munisipaliteit die betrokke wetgewing en sy eie verordeninge afdwing.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Kontak Johan Hayward by 073 885 1365 om by die buurtwag aan te sluit of kontak Braam Muller by 076 125 7773 om by die tak se projekte betrokke te raak.