|

AfriForum eis regulatoriese optrede teen wanbetalende munisipaliteite onder skuldverligtingsplan

AfriForum het ’n formele brief aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) gestuur waarin die burgerregteorganisasie dringende regulatoriese optrede teen munisipaliteite eis wat versuim om aan die bepalings van die Nasionale Tesourie se skuldverligtingsplan voldoen. AfriForum versoek verder dat dié munisipaliteite se verspreidingslisensies herroep word en dat private entiteite die geleentheid gegun word om die verspreiding van elektrisiteit oor te neem.

Die munisipale skuldverligtingsprogram is in Februarie 2023 deur die minister van Finansies bekendgestel. Die program het ten doel om ’n deel van munisipaliteite se agterstallige skuld aan Eskom af te skryf, mits hulle oor ’n tydperk van 12 tot 36 maande aan streng finansiële bestuursvereistes voldoen.

’n Sleutelpunt is dat munisipaliteite wat nie aan die voorwaardes van hierdie program voldoen nie, hul eie onbekwaamheid moet erken en vrywilliglik aansoek doen by NERSA om hul elektrisiteitsverspreidingslisensies te laat herroep. Hierdie bepaling maak ’n gaping in die mark oop vir Eskom of ander bevoegde entiteite om die verspreiding van elektrisiteit oor te neem, wat beter en meer betroubare dienslewering tot gevolg kan hê.

AfriForum eis nou dat sou die verspreidingslisensies van munisipaliteite herroep word, dit nie outomaties na Eskom toe oorgedra word nie, maar dat die proses om ’n nuwe verspreidingslisensie uit te reik oopgestel word aan privaat entiteite wat óók dié diens kan lewer. 

AfriForum wys daarop dat 71 munisipaliteite landwyd aan die skuldverligtingsprogram deelneem, maar dat minstens 60 van hulle reeds amptelike waarskuwingsbriewe van die tesourie ontvang het vir hul voortdurende versuim om aan die voorwaardes te voldoen. Tog is daar geen duidelike optrede vanaf NERSA oor die situasie nie.

“Die skuldverligtingsprogram was bedoel om verantwoordbaarheid en volhoubare dienslewering te verseker, nie om munisipaliteite in staat te stel om voort te gaan met swak bestuur sonder gevolge nie,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Wanneer munisipaliteite hierdie kontraktuele ooreenkoms oortree en steeds sonder gevolge funksioneer, is dit duidelik dat regulatoriese strukture soos NERSA moet ingryp. Sou NERSA nie help om toe te sien dat kontraktuele ooreenkomste nagekom word nie, sal hierdie skuldverligtingsprogram, soos meeste inisiatiewe gedryf deur die staat, min vrugte afwerp.”

Benewens die eise wat reeds gestel is, het AfriForum ook NERSA versoek om te bevestig of:

  • die reguleerder enige kennisgewings van Eskom, die tesourie of selfs munisipaliteite ontvang het oor oortredings van die skuldveligtingsvoorwaardes;
  • enige munisipaliteite reeds aansoek gedoen het om hul lisensies ingevolge die toepaslike wetgewing te laat herroep;
  • daar enige goedgekeurde diensleweringsooreenkomste met Eskom of derde partye bestaan; en
  • ander bevoegde diensverskaffers oorweeg word.

“Die publiek verdien ’n elektrisiteitsbedryf wat op deursigtigheid, aanspreeklikheid en effektiewe bestuur gebaseer is – nie op politieke beskerming en skuldafskrywings sonder werklike optrede nie,” sluit Mostert af.

AfriForum eis dat NERSA binne 14 dae op die brief reageer. Die burgerregteorganisasie behou hom die reg voor om regstappe te oorweeg indien geen optrede geskied nie.

Soortgelyke plasings