|

AfriForum eis Opod-ondersoek oor wapendiefstal in Oos-Kaap

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum doen ’n beroep op die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) om dringend ondersoek in te stel nadat vuurwapens uit die verkeersdepartement in Humansdorp in die Oos-Kaap gesteel is. Hierdie voorval, waar 17 gewere tydens ’n inbraak uit ’n geweerkluis gebuit is, laat ernstige vrae ontstaan ​​oor die regering se vermoë om sy eie wapens te beskerm.

Hierdie diefstal van vuurwapens, wat tussen 25 en 29 April plaasgevind het, is die jongste in ’n kommerwekkende patroon van wapenverliese deur staatsinstellings, insluitend die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW).

Die Kouga Plaaslike Munisipaliteit het erken dat, ten spyte van sogenaamde streng sekuriteitsmaatreëls, die diewe met ’n onbekende bedrag kontant, dokumente en die vuurwapens ontsnap het. AfriForum beskou hierdie voorval as nog ’n voorbeeld van die regering se herhaalde mislukking om sy eie arsenaal te beheer en te beskerm. In onlangse jare is verskeie polisiestasies – insluitend die stasies in Norwood (Gauteng), Bushbuckridge (Mpumalanga) en Middledrift (Oos-Kaap) – van vuurwapens beroof of vuurwapens het onder verdagte omstandighede vermis geraak. In baie van hierdie gevalle duik gesteelde vuurwapens later in geweldsmisdade op.

AfriForum eis verder dat die regering die behoorlike bewapening, opleiding en beskerming van sy eie magte prioritiseer voordat daar gepoog word om die regte van die burgerlike sektor of privaatsektor op verantwoordelike vuurwapenbesit te ondermyn.

“Dit is onaanvaarbaar dat regeringsdepartemente aanhou om vuurwapens te verloor, maar tog wil hulle privaat vuurwapenbesit bekamp – veral in die privaat sekuriteitsektor, wat reeds streng gereguleer word en ’n deurslaggewende rol speel in die beskerming van Suid-Afrikaners,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum waarsku dat hierdie voortdurende ​​verliese deur regeringsentiteite die openbare vertroue in wetstoepassing se vermoë om sekuriteit te handhaaf, ondermyn. Terwyl wetsgehoorsame burgers en privaat sekuriteitsdienste toenemende wetgewende beperkings in die gesig staar, bly regeringsagentskappe wapens verloor weens nalatigheid of korrupsie – AfriForum beskou dít as ’n dubbele standaard.

Soortgelyke plasings