AfriForum eis dringende ingryping by onwettige taxi-bedrywighede in besige Knysna-straat
AfriForum doen ’n beroep op Knysna Munisipaliteit om dringend op te tree teen die bestuurders van minibus-taxi’s wat New-straat onwettig as ’n informele taxistaanplek gebruik. Die taxi’s veroorsaak aanhoudende ontwrigting, ernstige verkeersopeenhopings en hou ’n voortdurende risiko vir ondernemings, inwoners en voetgangers in die gebied in.
Die New Street Business Group het reeds in Mei 2025 ’n brief aan die munisipaliteit oorhandig waarin hierdie bekommernisse uitgelig is. Tot op hede is daar egter geen sigbare wetstoepassing of merkbare optrede van die munisipaliteit nie. Tydens ’n vergadering met AfriForum op 10 Julie het die munisipaliteit aangedui dat ’n formele vergadering met alle betrokke rolspelers gereël sou word. Só ’n vergadering het egter nog nie plaasgevind nie.
“Die teenwoordigheid van minibus-taxi’s in New-straat is nie net ’n oorlas nie, maar ’n werklike gevaar vir openbare veiligheid. Toegang tot ondernemings word belemmer, verkeer is chaoties en voetgangers word in ernstige gevaar gestel. Dit is ’n duidelike versuim van wetstoepassing ingevolge die Knysna Munisipaliteit se eie verordeninge,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Die erns van die saak word verder onderstreep deur ’n voorval op 4 September, toe ’n roekelose taxi-bestuurder ’n ongeluk op die hoek van New-straat en Waterfront-rylaan veroorsaak het. Die bestuurder het omstanders beledigings en dreigemente toegesnou terwyl hulle foto’s van die voorval geneem het.
In ’n brief wat AfriForum gister aan die Knysna Munisipaliteit gestuur het, eis die organisasie ’n volledige verduideliking van die munisipaliteit se kennis van en betrokkenheid by die saak tot dusver; ’n gedetailleerde uiteensetting van onmiddellike en langtermyn maatreëls om die onwettige aktiwiteit te beëindig en veiligheid te herstel; en ’n vaste datum vir ’n vergadering met alle betrokkenes.
AfriForum het versoek dat die munisipaliteit binne tien werksdae ’n skriftelike reaksie lewer. Indien die munisipaliteit versuim om te reageer of op te tree, sal AfriForum genoodsaak wees om die saak te eskaleer.
“Die situasie in New-straat is onhoudbaar. Dit verg beslissende en sigbare optrede sonder verdere vertragings,” sluit Erasmus af.
Sluit vandag nog aan by AfriForum se Knysna-tak en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602.
