J.B. Marks-munisipaliteit verkoop erwe in Potchefstroom
|

AfriForum eis dringend antwoorde oor verkoop van munisipale erwe in Potchefstroom

AfriForum het ’n dringende brief aan die munisipale bestuurder van die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit en die Departement van Openbare Werke in Noordwes gerig waarin ernstige vrae gevra word oor die beoogde verkoop van vakante erwe in Potchefstroom. Die erwe is op 20 Januarie in die Potchefstroom Herald geadverteer, maar volgens AfriForum bestaan daar groot onsekerheid oor die wettigheid, deursigtigheid en moontlike gevolge van die proses.

“Gemeenskappe het die reg om te weet hoe openbare grond vervreem word en of dit teen billike, markverwante pryse geskied,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. “Ons is veral bekommerd oor die gebrek aan openbare inligting rakende eiendom waardasies en raadsbesluite.”

AfriForum het geregistreer as belanghebbende en geaffekteerde party om alle kommunikasie in hierdie saak te kry. In die brief, wat AfriForum vandag gestuur het, is die munisipaliteit dringend versoek om onder meer die volgende inligting beskikbaar te stel: of eiendom waardasies vir die betrokke erwe bestaan en wanneer dit laas gedoen is; wie die waardasies gedoen het; of die erwe korrek gesoneer is; of die grond teen markverwante pryse verkoop gaan word; ’n afskrif van die raadsbesluit wat die verkoop van die grond goedkeur; en waarom die provinsiale Departement van Openbare Werke – nie die munisipaliteit nie – die advertensie geplaas het.

Verder wil AfriForum weet watter maatreëls ingestel sal word om te voorkom dat die waarde van omliggende eiendomme negatief beïnvloed word. AfriForum gee die munisipaliteit tot 9 Februarie  om op hierdie versoek te reageer.

“Ons sal nie toelaat dat openbare bates sonder behoorlike toesig of gemeenskapsbetrokkenheid vervreem word nie. Deursigtigheid en verantwoordbaarheid is nie onderhandelbaar nie,” sê Douglas Bourn, AfriForum se voorsitter vir die Potchefstroom-tak.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf