Adv. Gerrie Nel lewer slotbetoë in Deedat-saak
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag slotbetoë gelewer in die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die vlammedood van Suraya Deedat en haar vier kinders (tussen die ouderdomme van ses maande en vier jaar) in 2011. Die eenheid verteenwoordig Suraya se familie in die GDO. Naeem Deedat, Suraya se man en die enigste persoon wat die brand oorleef het, is die persoon van belang in hierdie ondersoek.
Niemand is vir meer as ’n dekade vir Suraya en haar kinders se dood aanspreeklik gehou nie en die formele geregtelike doodsondersoek gee aan belanghebbende partye die geleentheid om getuienis te toets en die landdros te help om tot ’n bevinding te kom rakende wie en/of wat verantwoordelik was vir hul dood. Landdros John Maloba gaan na verwagting Woensdag sy bevinding maak rakende die vraag of Naeem aanspreeklik gehou kan word vir hul dood. Daarna moet die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ’n besluit neem oor die vervolging van hierdie persoon.
Nel het tydens sy slotbetoë weer eens beklemtoon dat Naeem vir die moord op Suraya en hul vier kinders aangekla behoort te word. Die getuienis dat hy inderdaad vir hul dood aanspreeklik is, is oorweldigend en sluit in dat
- Naeem sonder enige beserings oorleef het – sy baard was nie eens geskroei nie;
- die slagoffers se liggame op hul rûe in ’n ry in die sitkamer aangetref is wat daarop dui dat hulle nie eens gepoog het om te vlug nie;
- Suraya se liggaam sowat ses meter van haar ses maand oue baba af gevind is;
- versnellers moontlik gebruik is om die brand aan te vuur; en
- die deur van die hoofslaapkamer met die en suite-badkamer vanwaar Naeem deur die venster ontsnap het, het volgens al die deskundige getuies, asook AO Jacobus Venter (die polisieman wat eerste op die toneel was) van binne gesluit was.
Nel het tydens sy slotbetoë in die hof gesê die kwaliteit en ongeloofwaardigheid van die deskundige getuies wat Naeem se regspan geroep het, kommerwekkend is en dat dit as irrelevant en ongeloofwaardig verwerp moet word. Nel het ook aangevoer dat hul getuienis aan die relevante owerhede gerapporteer moet word.
Ingevolge die Wet op Geregtelike Doodsondersoeke 58 of 1959 mag die voorsittende landdros ook enige getuie roep om te getuig. Landdros Maloba het vandag vir Naeem geroep om getuienis te lewer, maar hy het geweier om die hof by te staan in die GDO. Dit beteken dat die persoon van belang geen weergawe van sy eie aan die hof voorsien het oor wat daardie aand gebeur het nie.
Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die omstandigheidsgetuienis oorweldigend. “Die dood van Suraya en haar vier kinders is tragies en haar familie kan nie langer deur die regstelsel gefaal word nie. Die deursettingsvermoë en aanhoudende strewe na geregtigheid vir Suraya en haar kinders deur haar familie is prysenswaardig. Dit is dus nou tyd en in die belang van geregtigheid dat Naeem vervolg word vir hierdie afgryslike daad,” sê Venter.