|

Skades en skandes van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur

Alana Bailey, hoof van Kultuursake

Dit kom voor asof die Departement van Sport, Kuns en Kultuur altyd in die een of ander kontroversie gewikkel is, ongeag wie die minister aan die stuur is. Onder wyle Nathi Mthethwa was daar onder meer die belaglike plan om R22 miljoen aan ’n reusevlagpaal en nasionale vlag te spandeer, R30 miljoen aan ’n nasionale orkes en sy jare lange pogings om Afrikanermonumente uit die openbare oog na ’n sogenaamde beeldepark (of “konsentrasiekamp vir standbeelde”, soos Kallie Kriel dit genoem het) te verwyder. Vele naamsveranderinge het ook plaasgevind, insluitend dié van Grahamstad na Makhanda en Port Elizabeth na Gqeberha.

Mthethwa is deur Zizi Kodwa as minister opgevolg. Tydens sy sowat vyftien maande as minister, was daar minder drama, hoewel hy op aanklagte van korrupsie gearresteer is in sy laaste dae in die pos. Die aanklagte is later teruggetrek. Hy is in 2024 deur Gayton McKenzie opgevolg.

As ons vinnig na die hede aanbeweeg lyk dit of 2026 nog ’n stormagtige jaar vir die departement gaan wees. Tans speel verskeie dramas af. Op kultuurterrein het McKenzie aangekondig dat 21 geografiese name gaan verander met ’n aankondiging wat hy in die Staatskoerant gaan plaas. Dit sluit in dat Oos-Londen voortaan as KuGompo City sal bekendstaan en Graaff-Reinet as Robert Sobukwe Town. Volgens die departement se webtuiste weerspieël die minister se goedkeuring “die departement se voortgesette verbintenis tot die transformasie van Suid-Afrika se naamgewingslandskap, die bevordering van sosiale samehorigheid en die erkenning van die land se diverse erfenis”. Dit staan in skrille kontras met McKenzie se uitsprake van 2024 toe hy verklaar het dat Graaff-Reinet se naam sal bly, dat daar groter kwessies is wat aandag moet geniet en dat verseker moet word dat almal tuis voel in die land, eerder as om lukraak naamsveranderinge te maak.

Volgens die departement se webtuiste weerspieël die minister se goedkeuring “die departement se voortgesette verbintenis tot die transformasie van Suid-Afrika se naamgewingslandskap, die bevordering van sosiale samehorigheid en die erkenning van die land se diverse erfenis”.

Skynbaar het dié insig sedertdien verander. Besigheidslui en swaar belaste inwoners wys op die hoë koste van naamsveranderings. Slaggate, watervoorsiening, toerismeuitdagings en werkloosheid skep krisisse en die wysigings polariseer die gemeenskappe al meer. Die VF+ beskuldig McKenzie van ’n keuse vir simboliek eerder as ekonomiese groei. Die DA sê dat die minister die publiek mislei het en ondeursigtig optree. Sodra die name in die Staatskoerant verskyn, kan besware ingedien word en die publiek moet dan beslis insette lewer.

Intussen is die minister se kop ook in ’n byenes oor die kansellasie van die jaarlikse internasionale branderplanktoernooi in Jeffreysbaai. Beskuldigings vlieg tussen die organiseerders wat beweer die nodige befondsing is nie deur die departement voorsien nie en die departement wat beweer die nodige aansoeke is nie ingedien nie – effe vreemd dat gesoute organiseerders na sowat vier dekades nie die prosedures sou volg nie. Intussen verloor dié ekonomies-geteisterde streek tussen R30- en R50-miljoen, sonder dat breër spandering in die land deur die deelnemers en toeskouers eers bygereken is.

Verder hersien die departement ook die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale wat in 2012 die lig gesien het. Die aankondiging hieroor het egter verskyn sonder ’n sperdatum. Navrae by die voorsiende e-posadres en versoeke vir die amptelike dokument het ná ’n week nog niks opgelewer nie.

Die departement speel ’n sleutelrol in die beskerming van sleutelregte van almal in die land, soos dié van taal en waardigheid. Die burgerlike samelewing en politieke partye moet saamspan om beter dienslewering te eis – ons is dit aan onsself verskuldig.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik