|

AfriForum-buurtwagte trek dronkbestuurders vas, blus brande in Oos-Rand

’n AfriForum-buurtwag aan die Oos-Rand het onlangs die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gehelp om twee vermeende dronkbestuurders in Alberton vas te trek. Die lede het in samewerking met die SAPD en ander rolspelers ’n padblokkade op 20 Junie beman, wat toegesien het dat meer as 150 voertuie afgetrek en deursoek is. Hiertydens is twee individue vir dronkbestuur vasgetrek.

Benewens die bystand wat die Alberton-buurtwag aan die SAPD gebied het, het AfriForum-lede boonop op dieselfde aand daarin geslaag om brande in die gebied te help blus. Buurtwaglede het bystand gebied by ’n brand in Albertsdal, terwyl die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wat ook aan AfriForum se massapatrollie deelgeneem het, na ’n brand aan die hoek van 2de Laan en Piet Retiefstraat ontbied is. Geen beserings is in beide dié gevalle aangemeld nie.

AfriForum bied jaarliks landswyd massapatrollies aan waartydens AfriForum-buurtwagte saam met wetstoepassers, nooddienste en ander veiligheidsrolspelers op verskeie veiligheidsaspekte fokus. Die AfriForum-buurtwagte aan die Oos-Rand het dié keer daarop gefokus om sigbaarheid in hul gebiede te verhoog, kwaaddoeners vas te trek en bewusmaking onder die jonges te skep om hulle by gemeenskapsveiligheid te betrek.

AfriForum-buurtwagte vanuit Brakpan, Springs, Alberton, Benoni en Kempton Park het in samewerking met die SAPD, GPF, nooddienste en verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye ’n gesamentlike operasionele plan saamgestel om sigbaarheid in Oos-Randse woonbuurte te verbeter.

In Brakpan het 47 lede van verskeie veiligheidstrukture patrollies gery en altesaam 4 320 km in een aand afgelê om kwaaddoeners af te skrik. In Springs het 12 mense altesaam 930 km afgelê. Dié patrollies het veral gefokus op areas soos Dersley, Eastvale, Struisbult, Edelweiss, Daggafontein, Petersfield, Paul Krugersoord en Geduld.

Die AfriForum-lede in Benoni het deelgeneem aan ’n demonstrasie vir jongmense, waar die nooddiensoperateur ER24 gemeenskapslede basiese noodreaksievaardighede geleer het, terwyl Secure Fire die jeuglede die kans gegee het om ’n brandslang te gebruik en meer oor brandveiligheid te leer. AfriForum se Benoni-tak het sy hommeltuig ingespan om die rol van dié tegnologie in gemeenskapsveiligheid ten toon te stel. Verskeie sekuriteitsmaatskappye het ook hieraan deelgeneem.

“Dis indrukwekkend om te sien hoe gemeenskapslede tyd afstaan om hul woonbuurte te beveilig, verhoudinge met plaaslike wetstoepassers, gemeenskapspolisiëringsforums en sekuriteitsmaatskappye te bou, asook die jonger generasie die geleentheid te gee om by gemeenskapsveiligheid betrokke te raak,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum bedank elke buurtwaglid vir hul toewyding, asook al die ander rolspelers vir hul tyd en deelname aan AfriForum se nasionale massapatrollie. Dit is weereens ’n bewys van wat deur samewerking vermag kan word.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak en -buurtwag betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings