| | |

AfriForum eis dat Emfuleni-munisipale bestuurder aanspreeklik gehou word vir voortgesette rioolbesoedeling

Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Afrikaans)
Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Engels)

AfriForum doen ’n beroep op Willie Aucamp, minister van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, dat die twee strafregtelike klagtes wat die organisasie in 2024 én 2025 teen April Ntuli, die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, ingedien het dringend ondersoek en sonder verdere vertraging voor die hof gebring word. Dié klagte – ingevolge die Nasionale Waterwet 36 van 1998 – spruit uit die voortdurende en ernstige storting van rou riool in Sasolburg, Vaalpark en Vanderbijlpark. Gemeenskappe langs die Vaalrivier word veral geraak.

In ’n brief wat AfriForum gister aan die minister gestuur het, vloei rou riool steeds in riviere, residensiële gebiede en openbare ruimtes, wat ernstige risiko’s vir gesondheid, watersekerheid en die omgewing inhou. Die voortdurende besoedeling is nie net onwettig nie, maar verteenwoordig ’n direkte skending van inwoners se grondwetlike reg op ’n veilige en gesonde omgewing.

“Ons kan nie weer vyf jaar wag vir ’n saak om voor die hof te kom nie. Die besoedeling is ’n reuse-probleem en die situasie raak net erger. Die huidige munisipale bestuurder moet in sy persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou word. Die ANC se praktyk om munisipale bestuurders te vervang sodra aanspreeklikheid dreig, lyk soos ’n doelbewuste poging om verantwoordelikheid te ontduik. Dit kan nie toegelaat word nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek.

In sy brief aan die departement, vra AfriForum dat die twee sake wat in 2024 en verlede jaar teen Ntuli aanhangig gemaak is, dringend ondersoek word; dat aksie ingevolge die wet en omgewingswetgewing prioritiseer word; en dat die departement verseker dat verantwoordelike amptenare persoonlik aanspreeklik gehou word en dat hierdie sake vir vervolging bespoedig word.

AfriForum se versoek volg nadat ’n dagvaarding uitgereik en op die Emfuleni-munisipaliteit beteken is om op 3 Maart 2026 in die hof te verskyn. Dit kom na aanleiding van strafregtelike klagte wat die organisasie reeds in 2018 teen die munisipaliteit ingedien het weens die volgehoue rioolstortings en ernstige waterbesoedeling.

“Die feit dat dit bykans vyf jaar geneem het voordat daar daadwerklik opgetree word, is egter kommerwekkend. Gedurende hierdie tydperk het besoedeling net vererger, riviere is besmet, infrastruktuur het verder verval en inwoners se gesondheid en eiendom is in gevaar gestel,” sê Grobbelaar.

AfriForum het sy regspan ook opdrag gegee om ’n beampte aan te stel wat die strafregtelike proses noukeurig sal moniteer, hofverrigtinge sal bywoon, met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal skakel en sal toesien dat die saak nie vertraag, afgewater of onnodig laat vaar word nie.

“Die voortgesette rioolkrisis is ’n duidelike bewys van ’n gebrek aan bestuursvermoë, swak instandhouding, gebrekkige beplanning en ’n totale gebrek aan politieke wil. Ten spyte van jare se waarskuwings, hofsake en gemeenskapsdruk, stort rou riool steeds in strate, riviere en woongebiede. Die munisipaliteit het herhaaldelik bewys dat hulle eenvoudig nie oor die vermoë of kundigheid beskik om die rioolwerke behoorlik te bestuur nie. Gemeenskappe betaal die prys vir hierdie onbevoegdheid,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum het ook op 8 Oktober 2025 ’n samewerkingsooreenkoms aan die Emfuleni-munisipaliteit voorgelê waarin kundige, privaat sektor hulp aangebied word om die rioolinfrastruktuur te stabiliseer en te bestuur. Hierdie aanbod lê egter steeds by die munisipaliteit se regsafdeling sonder enige finale goedkeuring.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf