| |

AfriForum-buurtwagte fynkam Suid-Kaapse dorpe vir misdaad

Die AfriForum-strukture in Albertinia, Riversdal, Mosselbaai en Swellendam het die afgelope naweek weer die ekstra myl gegaan om hul gemeenskappe te beveilig. Altesaam 104 AfriForum-buurtwaglede vanuit dié gebiede het tydens die burgerregteorganisasie se tweede landswye patrollie vanjaar, patrollies saam met 122 lede van ander buurtwagte gery, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en privaat sekuriteitsmaatskappye. Dié groepe het saamgespan om 1 774 km se veiligheidspatrollies in ’n enkele aand af te lê. Daar is ook vyf voertuigbeheerpunte bedryf, wat ten doel gehad het om onwettige immigrante vas te trek en ander ongerymdhede uit te snuffel.

AfriForum se Riversdal-buurtwag was betrokke by twee van die voertuigbeheerpunte, waar daar vier persone sonder wettige dokumentasie gevind is. AfriForum se Albertinia-plaaswag het die SAPD bygestaan met 12 inhegtenisnemings, vir onder andere die besit van gevaarlike wapens, die besit van dwelms, die besit van gesteelde goedere en dronkbestuur. In Swellendam het die buurtwag verskeie mense wat in die strate slaap verwyder en ’n patrollie in die Bontebok Nasionale Park saam met die plaaslike natuurbewaarders gery.

“Misdaad vind nie in isolasie plaas nie. Wanneer een gemeenskap deur misdaad geteister word, spoel dit dikwels oor na naburige areas. Dit is daarom belangrik om ‘n verenigde front te wees deur ’n netwerk van weerbare gemeenskappe te bou. AfriForum sal voortgaan om saam met ander rolspelers te werk om te verseker dat misdaad nie ’n vastrapplek kry nie,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Sluit vandag nog by jou naaste AfriForum-buurtwag aan en help om jou kinders se toekoms te verseker. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings