| |

Nuuskommentaar: SAUK vier 90 jaar van vermaak … en verval

Deur Ilze Nieuwoudt

Op 1 Augustus 1936 het die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie – oftewel die SAUK – amptelik tot stand gekom. Waar koerante en tydskrifte in die jare voor dit die Suid-Afrikaanse medialandskap oorheers het en as’t ware ’n monopolie op die kollektiewe aktuele kennis van mense gehad het, het die eerste klanke van SAUK-radio in 1936 al krakend oor die klankgolwe gekom. Hiermee is die wêreld van kennis vir die mense hier in die suide van Afrika herskryf.

Teen 1976 kom daar, met die koms van televisie in Suid-Afrika, nóg ’n omwenteling in die plaaslike mediabedryf. Die Britte was eerste om reeds in die 1930’s kennis  te maak met die eerste geskeduleerde televisiediens. Suid-Afrika moes egter nog sowat vier dekades lank wag vir die flikkerende beelde wat die verbeelding so kon aangryp – en dié vermoë vandag steeds behou, of dit nou voor die kassie van ouds is of deur moderne stromingsdienste.

Die onlangse 90ste herdenking van die SAUK se bestaan bring egter opnuut vrae oor die huidige stand van hierdie instelling. Hoe lyk die openbare uitsaaier vandag? Die SAUK vervul reeds generasies lank sy toesighoudende waghondfunksie en bring vermaak, nuus, ontvlugting en opvoeding tot reg in die hartjie van so te sê elke huishouding in die land. Maar doen hierdie instelling dit steeds doeltreffend?

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, hou vol dat die SAUK se bydrae omvangryk is, maar dat die storie van die uitsaaier in die onlangse verlede tog bevlek geraak het. Sy skryf: “Vir 90 jaar al het toegewyde joernaliste en aanbieders by die SAUK ons ingelig en geïnspireer, ten spyte van politieke inmengery en wanspandering van die onlangse verlede.”

Solly Malatsi, die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, het in ’n verklaring verlede week verklaar dat die SAUK oor die afgelope nege dekades “gegroei het tot ’n steunpilaar van ons demokrasie”.  Die regering het ook die uitsaaier geluk gewens as “een van Suid-Afrika se gerekende openbare instellings”.

Gerekend is egter ’n sterk woord om te gebruik. Wanneer die afgelope dekade of meer se mislukkings by die SAUK in oënskou geneem word, blyk dit dat die suksesse oorskadu word deur wolke van wanbestuur, onreëlmatige besteding, ’n verlies aan kykers en advertensie-inkomste en reputasieskade weens onder meer politieke inmenging wat oor die SAUK hang.

In Mei vanjaar het minister Malatsi aangekondig dat R234 miljoen uit sy departement se begroting geallokeer is vir die SAUK om dié instelling ’n finansiële hupstoot te gee. Dit nadat die SAUK volgens sy 2024/2025-jaarverslag ’n netto verlies van meer as R253 miljoen gely het. Dit bring die totale netto verlies wat die instelling oor die afgelope dekade gely het op ’n astronomiese R5 miljard te staan oftewel ’n gemiddelde jaarlikse verlies van meer as R508 miljoen – of sowat R1,4 miljoen per dag!

Die SAUK se jaarlikse netto verlies oor die afgelope dekade

In 2021 het ’n sogenaamde volhoubaarheidsplan tot die aflegging van meer as 600 werknemers gely en ’n reuseverlies aan ervaring en produksievermoë tot gevolg gehad. Intussen het die uitsaaier in sy 2024/2025-jaarverslag aangekondig dat kykertalle op twee van sy drie televisiekantale gedaal het, en dat kykertalle in totaal met bykans 1 miljoen kykers gekrimp het tot net met as 15,3 miljoen.

Daarbenewens kon die uitsaaier in dieselfde boekjaar net sowat 15% van sy lisensiekoste verhaal en net meer as R758 miljoen in uit die sowat R4,9 miljard wat gefaktureer is.

En al het die instelling verlede jaar, vir die tweede opeenvolgende jaar ’n skoon oudit gekry, het die ouditeur-generaal kommer uitgespreek oor die SAUK se kontantvloei, inkomsteteikens en die toenemende vlakke van lisensie-ontduiking.

Die wêreld van media het in die afgelope 90 jaar keer op keer verander en in die huidige omwenteling moet uitsaaiers soos die SABC meeding met internasionale rolspelers wat die mark oorheers, soos Netflix en YouTube.

In haar vieringsboodskap het die SABC se uitvoerende hoof, Nomsa Chabeli, dit verlede week duidelik gemaak dat die instelling steeds ’n belangrike rol het om te speel om te verseker dat Suid-Afrikaners se stem gehoor word. Sy beskryf die SAUK as die land se grootste argivaris en storieverteller.

Dit is ’n edele gedagte, maar dalk moet die storie voortaan minder vermorsing, wanbesteding en twyfelagtige verhoudinge bevat om die voortbestaan van hierdie storieverteller vir die volgende 90 jaar te verseker.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik