AfriForum bied aan om Vrystaat te help regruk ná departement visier hiér rig
Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Dit is volgens AfriForum ’n stap in die regte rigting dat die parlement se PDit is volgens AfriForum ’n stap in die regte rigting dat die parlement se portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) uiteindelik besluit het om ’n gesamentlike oorsigprogram van stapel te stuur om die sistemiese mislukkings van verskeie regeringsfere aan te spreek. Hiermee gaan ’n hernieude fokus op die voortslepende wanprestering van munisipaliteite en provinsiale regerings geplaas word – iets wat AfriForum se plaaslike takke uitgebreide ervaring mee het en waardevolle insigte oor kan deel.
Die eerste oorsigbesoek vind môre (24 Julie) in die Vrystaat plaas en sal saam met die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SCOPA) en die Staande Komitee oor die Ouditeur-Generaal onderneem word. AfriForum se meer as 25 aktiewe takke in dié provinsie staan ook gereed om alle relevante inligting, verslae en data oor die verval aan die komitees beskikbaar te stel.
AfriForum voer aan dat gemeenskappe se geleefde ervarings ’n belangrike komponent is om die omvang van die wanbestuur en diensleweringsgebreke ten volle te begryp. Die burgerregteorganisasie het daarom in ’n skrywe aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Cogta, AfriForum se bystand in hierdie verband aangebied.
“Ná munisipaliteite se swak oudituitslae vir die 2023/2024-boekjaar, wil dit voorkom dat daar uiteindelik beweging uit Cogta se geledere kom om beide provinsiale regerings en munisipaliteite vas te vat oor hul voortslepende mislukkings en swak finansiële bestuur,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
“Hierdie onderneming is ’n positiewe stap wat blywende verandering teweeg kan bring, maar indien dit nie met die nodige erns aangepak word nie, sal die mooi praatjies op niks uitloop nie. Jaar na jaar word swak oudituitslae ontvang, maar geen gevolge spruit daaruit nie. Die kultuur van korrupsie en wanadministrasie raak dieper in munisipaliteite gewortel en die enigste manier om dit om te keer is om die skuldiges aanspreeklik te hou.”
Die fokus van die oorsigvergaderings is om vas te stel of provinsiale regerings voldoende ondersteuning aan munisipaliteite bied en die nodige stappe doen om die verval te keer. Die speaker van die provinsie sal moet rekenskap gee oor die provinsiale regering se pogings om swak bestuurspraktyke, interne mislukkings en onbetroubare finansiële inligting die hoof te bied. Die speaker gaan boonop moet verseker dat die 16 munisipaliteite wat onbefondsde begrotings goedgekeur het, se begrotings hersien word.
“Provinsiale regerings moet ʼn streng oorsigrol speel en kan volgens artikel 139 van die Grondwet munisipaliteite onder administrasie plaas. Ongelukkig is hierdie ingrypings selde suksesvol, daarom is dit belowend dat die parlementêre portefeuljekomitee oor Cogta nie net fokus op munisipaliteite nie, maar ook op provinsiale regerings, wat tot ʼn groot mate ook die skuld vir munisipale agteruitgang dra,” sê Steffens.
Deel van die program vereis dat burgemeesters verslag doen oor die stappe wat hulle gedoen het om op die bevindings van die ouditeur-generaal te reageer – met spesifieke verwysing na die gevolgbestuur wat toegepas is. Munisipaliteite sal verplig wees om ’n gedetailleerde aksieplan in te dien na afloop van die besoek, waarin dit duidelik uiteengesit word hoe hulle beplan om op die oudit se uitkomste te verbeter. Provinsiale regerings sal verantwoordelik wees vir die monitering van die implementering van hierdie planne en moet gereeld verslag doen aan hul wetgewende owerhede.
AfriForum sal voortgaan om hierdie proses te monitor en al die nodige ondersteuning aan owerhede te bied om te verseker dat wanpresterende munisipaliteite en provinsiale regerings vasgevat en betroubare dienslewering aan gemeenskappe herstel word.