|

AfriForum druk Gautengse departement van Vervoer om koste van nuwe nommerplate bekend te maak

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)

AfriForum het vandag ’n interne appèl by die Gautengse departement van Vervoer ingedien nadat die burgerregteorganisasie se aansoek om inligting oor die beoogde nuwe nommerplate vir die provinsie in te win, verontagsaam is. Die departement het nie binne die voorgeskrewe 30 dae gehoor gegee aan AfriForum se aanvanklik aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) nie. AfriForum dring daarop aan dat die provinsiale departement die beoogde koste en die gepaardgaande herregistrasiekoste van hierdie nommerplate bekend moet maak, asook hoe lank voertuigeienaars die geleentheid gaan hê om hul ou nommerplate te vervang.

AfriForum wil verder weet op watter navorsing die bewerings geskoei is dat die nuwe nommerplate, wat bykomende veiligheidskenmerke bevat, algehele padveiligheid sal verbeter. Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is daar geen syfers met die publiek gedeel oor hoeveel vervalste nommerplate daar in die provinsie is en hoeveel voertuie met vervalste nommerplate by misdaad betrokke is nie. “Solank misdadigers daarmee kan wegkom om sonder nommerplate op hul voertuie te ry, gaan dit geen verskil maak hoe goed die vereiste nommerplate is nie,” verduidelik Boshoff. “Dus lê die oplossing by beter wetstoepassing – nie nuwe foefies nie.”

Die nuwe nommerplate is ’n projek wat deur die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, gedryf word. Dié nommerplate word reeds van Junie af op die provinsiale regering se voertuie geïnstalleer. Dit word veronderstel dat dit teen Desember na die res van die provinsie se voertuie uitgebrei sal word.

“Daar is meer as drie en ’n half miljoen voertuie in Gauteng. Dit beteken dat die premier om en by 7 miljoen nuwe nommerplate vervaardig wil hê, maar hy is nie eens bereid om bekend te maak hoeveel dit sal kos nie – dit is onaanvaarbaar,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings