|

AfriForum-teenboelieveldtogspan en sy gelukbringer Matteus toer deur Mpumalanga

AfriForum se teenboelieveldtogspan en sy gelukbringer Matteus het vroeër vandeesweek skole in Mpumalanga besoek om ’n boodskap van hoop aan bykans 3 000 skoliere te bring. Elk van die 2 982 leerders wat die span bereik het, is toegerus met die nodige vaardighede om boeliegedrag te herken, dit hok te slaan en hulself met die volle wapenrusting van God te beskerm.

Die teenboelieveldtogspan het tussen 28 en 30 Julie altesaam vyf skole besoek, naamlik Laerskool Koornfontein, Laerskool Rietkuil, Belfast Akademie, Laerskool Machado en Laerskool Nelspruit.

Leerders is deur die teenboelieveldtogspan oor die goue reël geleer. Dié reël, wat ook in Matteus 7:12 staan, sê dat jy ander mense moet behandel soos jy graag behandel wil word. AfriForum se teenboeliegids herinner kinders aan hierdie beginsel om respek te bevorder. Die teenboelieveldtogspan se gelukbringer, Matteus, se naam spruit ook voort uit hierdie Bybelvers.

“Die kinders leer hoe om die volle wapenrusting van God in te span om boeliegedrag hok te slaan. Meer spesifiek leer ons die leerders om elke dag die skoene van vrede aan te trek, sodat hulle weet wanneer om van ’n boelie weg te stap en wanneer om ander leerders te help,” sê Tania Scheepers, AfriForum se Noordstreek-koördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtogpraatjies.

“Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met hierdie vaardighede toe te rus, sodat hulle gevaarlike situasies in die toekoms kan voorkom. As almal hierdie eenvoudige beginsel toepas, kan ’n gemeenskap van respek en ondersteuning gebou word, waar boeliegedrag nie geduld word nie.”

Bewusmaking noodsaaklik

Marla Louw, maatskaplike werker by Laerskool Nelspruit, sê dié laerskool fokus daarop om ’n veilige omgewing te skep waar elke kind voel hulle behoort. “As ’n skoolgemeenskap wat op wedersydse respek gebou word, is dit vir ons belangrik om proaktief oor boeliegedrag te praat, want kennis is mag. Ons wil hê dat elke leerder met respek, selfvertroue en empatie grootword. Vir hierdie rede is die soort bewusmaking en gesprekke oor onvanpaste gedrag wat AfriForum fasiliteer, noodsaaklik. Wanneer kinders weet hoe om hulself en ander te respekteer, bou ons saam aan ’n kultuur van omgee, betrokkenheid en goedhartigheid.”

“Bewusmaking oor boeliegedrag is belangrik, veral omdat dit al hoe meer voorkom en die begrip daarvan dikwels vaag is. Baie kinders besef nie eers hulle word geboelie nie, terwyl ander dit weer gebruik om uit die moeilikheid te kom. Onderwysers is dikwels nie op hoogte van moderne boeliegedrag nie, daarom moet hulle ook die praatjies bywoon. Ons het die afgelope twee jaar ’n groot toename in boeliegedrag en selfs selfmoordpogings onder leerders gesien. Dit is hoekom ek AfriForum genader het en op hierdie praatjies staatmaak om lig op die onderwerp te skyn,” sê Aletta Potgieter, graad 4-onderwyser by Laerskool Rietkuil.

Mariaan Immelman, hoof van Laerskool Machado, sê hierdie soort praatjies het reeds gehelp om ’n kultuur van respek en empatie te bevorder, wat slagoffers die moed gee om hulp te soek. “Só help dit om verantwoordelike en verdraagsame jongmense te ontwikkel.”

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog. 

Soortgelyke plasings