|

DWS bied weer leë retoriek in plaas van hervorming – AfriForum

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)

Soundbite: Lambert de Klerk (English)

Ten spyte van verskeie voornemens om hervorming teweeg te bring en beleggings in infrastruktuur te bewerkstellig, gaan die departement van Water en Sanitasie (DWS) voort om burgers in die steek te laat deur wanbestuurde munisipaliteite te bemagtig en moeilike, maar noodsaaklike strukturele veranderinge, te vermy. Dit volgens AfriForum, wat aanvoer dat minister Pemmy Majodina se 2025/2026-begrotingstoespraak geen gewig dra of verantwoordbaarheid bevat nie en versuim om die dringendheid van Suid-Afrika se water- en sanitasiekrisis te benadruk.

“Minister Majodina se toespraak het bekende retoriek bevat rakende die ondersteuning van munisipaliteite en die verbetering van toegang tot dienslewering. Dit het egter nie daarin geslaag om die kernkwessies van swak bestuur, gebrekkige afvalwaterstelsels en die verstommende waterverliese, wat gemiddeld 50% uitmaak as gevolg van onder meer lekkasies, te bespreek nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.

“Die regering se benadering is om water in ’n lekkende emmer te gooi. Daar is geen betekenisvolle plan om die lekkasies reg te maak, wanbestuurde munisipaliteite aanspreeklik te hou of die burgerlike samelewing en die privaatsektor te betrek om dringende herstelwerk te bewerkstellig nie.”

AfriForum benadruk dat daar belangrike weglatings en tekortkominge in die minister se toespraak is. Dit sluit in geen duidelike plan om die volume water wat in verspreidingstelsels gepomp word en die volume water wat eintlik aan kliënte gefaktureer word, te verminder nie. Dié verskynsel beloop meer as R12 miljard in jaarlikse verliese. Boonop is daar geen bindende verantwoordingsmeganisme vir munisipaliteite wat nie dienslewering bied nie. Daar is nie eens melding daarvan gemaak daarvan om gemeenskappe en burgerlike organisasies toe te laat om in te gryp in gebiede waar munisipale dienslewering ineengestort het nie.

Die land se watersekerheid sal nie verbeter deur niksseggende politieke toesprake nie, maar deur tasbare aksie. AfriForum herhaal dus sy oproep vir wetgewende en politieke steun vir gemeenskapsgedrewe diensleweringsalternatiewe kragtens die Waterdienstewet en die Munisipale Stelselswet; onmiddellike verbintenis om lekkasies te herstel en waterinfrastruktuur op te knap; en die beëindiging van die monopolie wat sukkelende munisipaliteite oor noodsaaklike waterdienste het.

AfriForum bly daartoe verbind om die burgerlike samelewing te mobiliseer en wetlike, tegniese en gemeenskapsgebaseerde oplossings te vind in gevalle waar die regering misluk het. Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om die departement se vordering te monitor, veral wat watergehalte, bestuur van infrastruktuur en verantwoordbaarheid betref.

Soortgelyke plasings