|

AfriForum keer terug hof toe oor Wonderfontein-ontwikkeling

Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Afrikaans)

Soundbite: Jaco Grobbelaar (English)

AfriForum het vandeesweek hofstukke op die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, die Vrystaatse Departement van Menslike Nedersettings en die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit beteken in ’n poging om die Wonderfontein-ontwikkeling tussen Sasolburg en Vanderbijlpark in sy spore te stuit.

Dit volg nadat die minister sonder verduideliking of genoegsame motivering goedkeuring aan die departement gegee het om met die ontwikkeling voort te gaan. Dit ondanks die feit dat die oorspronklike voorwaardes nie nagekom is nie. Die munisipaliteit en betrokke departement het vroeër vanjaar aansoek om vryskelding by die minister gedoen nadat hulle vir vyf jaar lank versuim het om aan die vereistes, soos uiteengesit deur die Metsimaholo-beplanningstribunaal, te voldoen. Die vryskelding maak voorsiening vir ’n verdere vyf jaar om aan die vereistes te voldoen.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die Sentraalstreek, is die minister se besluit om die vryskelding toe te staan ondeurdag en strydig met die gemeenskap se belange. “Die besluit is geneem sonder om die nagevolge daarvan behoorlik in ag te neem. AfriForum wil weet op watter gronde die minister se goedkeuring van die aansoek geskoei is. Was die planne en die tribunaal se oorspronklike vereistes werklik op die minister se tafel toe die besluit geneem is?”

Die munisipaliteit en die betrokke departement is al vir jare lank besig met die ontwikkeling, maar kon sedert die aanvang van die projek in 2019 nie aan enige van die gestelde vereistes voldoen nie. “Dit is in openbare belang dat die minister en die munisipaliteit onthul wat verander het om ’n verdere verlenging te regverdig,” sê Grobbelaar.

Benewens die gestelde vereistes waaraan daar oorspronklik nie voldoen is nie, wil dit voorkom asof daar geen formele beplanning vir infrastruktuur bestaan nie. Tot op hede is daar nie amptelike planne vir die bou van ’n nuwe rioolaanleg aan AfriForum verskaf nie, asook nie planne rondom watervoorsiening, behoorlike vullisbestuur of stormwater- en padinfrastruktuur nie.

“AfriForum het reeds verskeie skrywes aan en vergaderings met die munisipaliteit gehad waarin daar versoek is dat hierdie planne verskaf word. Die beoogde plan van aksie om dié ontwikkeling te takel, verander egter met elke vergadering en tot op hede het dié planne nog nie die lig gesien nie,” sluit Grobbelaar af.

Die Wonderfontein-ontwikkeling wat in uitbreidings 74, 75, 76, 77, 78 en 79 onderneem word, is deel van die Sasolburg-dorpsbeplanningskema soos op 17 Oktober 2019 deur die Metsimaholo-beplanningstribunaal goedgekeur is. Die gemeenskappe wat die meeste hierdeur geraak gaan word, sluit die inwoners van Sasolburg, Vaalpark, SW5 (Vanderbijlpark) en dele langs die Vaalrivier in.

Die saak is voorlopig vir 7 Augustus op die ongeopponeerde hofrol in die Hooggeregshof in Bloemfontein geplaas.

Soortgelyke plasings