|

AfriForum-patrollie hou misdadigers van strate af

Die AfriForum-buurtwagte in die Mooirivier het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 20 en 21 Junie in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 16:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend voortgeduur.

’n Totaal van 159 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 2 682 km in 101 voertuie afgelê. Daar het ook 35 persone van ander instansies, soos die SAPD, GPF en sekuriteitsmaatskappye deelgeneem. Die buurtwagte wat deelgeneem het, was Bothaville, Sasolburg, Viljoenskroon, Songloed, Potchefstroom en Stilfontein.

Daar was min ernstige insidente in die streek. Dit is waarskynlik oor die groot sigbaarheid van die buurtwagte. In Songloed in Klerksdorp het die buurtwag gehelp om ’n veldbrand te blus en in Potchefstroom het die buurtwag ’n gebeurlikheidsplan vir ’n plaasaanval ingeoefen.

“Ek is baie trots op hierdie Mooirivier-buurtwagte wat altyd bereid is om aan die landwye patrollie deel te neem ten spyte van die koue. Ek bedank ook elke patrolleerder, wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hulle onderskeie gemeenskappe om te sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings