AfriForum se Uitenhage-buurtwagte patrolleer strate vir misdaad
AfriForum se Mosel-buurtwag en Winterberg-plaaswag in Uitenhage, in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het van Vrydagaand tot die volgende oggend (20 en 21 Junie) aan die organisasie se landwye massapatrollie deelgeneem. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS), WoGa-sekuriteit, Atlas-sekuriteit, Relay-mediese nooddienste, Guardmed-ambulansdiens en die verkeersdepartement het aan die patrollie deelgeneem. Die doel van die massapatrollie is om hoë sigbaarheid te skep en om potensiële misdadigers af te skrik.
Die patrollie het om 17:00 by die Engen-vulstasie in Penford-rylaan begin. Tussen 19:00 en 22:00 is padblokkades in Thornstraat gehou, waartydens voertuie se padwaardigheid en motoriste se rybewyse nagegaan is.
Van 22:00 het ’n konvooi van 32 voertuie, begelei deur die SAPD, ’n magsvertoon deur die strate van Uitenhage gedoen. Tydens die magsvertoon het die SAPD ook by verskillende probleemareas in die woonbuurte stilgehou en inspeksies uitgevoer met die ondersteuning van die AfriForum-buurtwagte en die GPF.
Die Winterberg-plaaswag het die strate tot 23:00 gepatrolleer, terwyl die Mosel-buurtwag nog tot die volgende oggend om 06:00 diens gedoen het. Intussen het die Mosel-buurtwag gehelp om ’n voorval van huishoudelike geweld, waartydens een persoon met ’n mes gesteek en twee ander aangerand is, te ontlont. Buurtwaglede het die huis beveilig en die beseerde se meswonde verbind. Al drie persone het later klagtes by die SAPD aanhangig gemaak. In ’n ander voorval is ’n verdagte met vermeende gesteelde bankkaarte en ID-dokumente aangekeer. Die verdagte is later aan die SAPD oorhandig.
“Hierdie patrollie was veral spesiaal omdat daar ’n groot fokus was om verhoudinge tussen die verskillende buurtwagte, die SAPD, sekuriteitsmaatskappye, die GPF en mediese nooddienste te bou. Ons het mekaar nodig in die bekamping van misdaad in ons dorp. Ons hoop om by die volgende massapatrollie ook die publiek betrokke te kry sodat ons ’n verenigde front teen misdaad kan vorm,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.
“Die aktiewe betrokkenheid van ons vrywilligers in hierdie massa-inisiatief wys weereens hoe noodsaaklik georganiseerde gemeenskapsveiligheid is in ’n land waar misdaad handuit ruk. AfriForum is trots op elke patrolleerder wat hul tyd en vaardighede opoffer om hul gemeenskap te help beveilig. Dít is waar ware veiligheid begin – by die gemeenskap sélf.”
Van der Vyver bedank ook die Uitenhage-polisiestasie se sers. Cisciro Jonathan, hoof van gemeenskapspolisiëring, en kol. Corné de Ridder, waarnemende stasiebevelvoerder, vir hul ondersteuning en deelname aan die patrollie.
AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.