AfriForum se Rustenburg-tak herstel slaggate in industriële gebied
Die AfriForum-tak in Rustenburg het op 12 Junie die padverval op die hoek van Lucas- en McGregorstraat in die industriële gebied herstel. Tydens dié projek is 1,4 ton teer en een 20 liter-drom SS60-bitumen gebruik om die slaggate voldoende te herstel.
“Die instandhouding van industriële gebiede is ’n prioriteit vir ekonomiese volhoubaarheid en welvaart. Hierdie gebiede skep werksgeleenthede en bevorder stedelike ontwikkeling. Deurlopende instandhouding van infrastruktuur en dienste in dié gebiede dra by tot die produktiwiteit van ondernemings én gemeenskappe se lewenskwaliteit. Die industriële sektor is ’n noodsaaklike dryfkrag vir groei, daarom is die instandhouding van sulke gebiede van kardinale belang,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot-Marico.
Daar is nog baie werk wat aan daardie hoek gedoen moet word en AfriForum sien uit daarna om dit nog aan te pak. AfriForum bedank elkeen wat betrokke was en gehelp het om hierdie projek ’n sukses te maak – veral Coastal Hire vir die roller en snymasjien, Obaro vir hul bydrae van 1,4 ton teer en Sandcor Mini Loads vir 2,6 ton gruis.
Vir meer inligting of om betrokke te raak by toekomstige projekte, word belangstellendes aangemoedig om by AfriForum se Rustenburg-tak aan te sluit. Kontak Dawie Conradie by 082 930 9905 vir verdere besonderhede.
Laat ons saamwerk om ’n veiliger en meer funksionele omgewing vir ons gemeenskap te bou.
