|

AfriForum se Eden-steunkring ontvang opleiding in rampbestuur  

AfriForum se Eden-steunkring, wat uit die Knysna-, George-, Mosselbaai- en Oudtshoorn-takke bestaan, het die afgelope naweek opleiding in rampbestuur in George ontvang. Gedurende die opleiding het die steunkring ook hul bestuurspan, wat uit 18 lede bestaan, gestig wat in die toekoms spesifiek daarop sal fokus om hulp en ondersteuning aan die statutêre elemente tydens rampe of noodsituasies te bied.

Dié steunkring, wat in Januarie 2024 gestig is om groter samewerking tussen die omliggende AfriForum-takke te bewerkstellig, het reeds ’n aantal suksesvolle opleidingsgeleenthede aangebied. Die onderskeie takke in die steunkring het sedert die stigting daarvan hulp by verskeie rampe en groot insidente aangebied, waaronder die kragkrisis in die Karoo en die gebou in George wat inmekaargestort het. Hierdie insidente bevestig die behoefte om so goed as moontlik voorbereid te wees vir enige toekomstige gebeure.

“Die rampbestuuropleiding het nie net waardevolle kennis aan die AfriForum lede gebied nie, maar het ook die grondslag gelê vir die stigting van ’n toegewyde rampbestuurspan in die Eden-steunkring. Dit is bemoedigend om te sien hoe gemeenskapslede hulself beskikbaar stel om verantwoordelikheid te neem en hul gemeenskappe veiliger te maak,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis, wat die opleiding aangebied het.

Die AfriForum-takke in Knysna, George, Oudtshoorn en Mosselbaai bedien elkeen hul onderskeie gebiede, maar werk ook op ’n hoër vlak saam om die groter geologiese area te verbeter en beveilig. Raak vandag nog by een van hul plaas- of buurtwagte betrokke of help met gemeenskapsprojekte. Neem eienaarskap van jou omgewing en kom doen jou deel om ‘n verskil te maak. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings