AfriForum-buurtwagte nou noodreddingsdiens se voorste linie in die Oos-Rand
Lede van AfriForum se Alberton- en Edenvale-buurtwagte kan nou broodnodige ondersteuning aan die noodreddingsdiens Rocket Hems bied wanneer sy reddingshelikopters noodgedwonge in dié dele van die Oos-Rand moet land. Ses buurtwaglede het die afgelope naweek opleiding in Germiston ontvang om onder meer ’n landingsone vir hierdie nooddiens se helikopters voor te berei tydens noodsituasies.
Dié onafhanklike noodreddingsdiens het AfriForum se buurtwaglede opgelei in beide die teoretiese dele en praktiese stappe om reddingshelikopters te help om veilig en doeltreffend op noodsituasies te reageer. AfriForum se Alberton- en Edenvale-buurtwaglede gaan dus nou vinnig ’n veilige landingsone kan identifiseer wanneer Rocket Hems op ’n noodsituasie moet reageer; die landingsone korrek merk; die helikopter bystaan om veilig te land; pasiënte in die helikopter help laai; en die vlieënier ondersteun tydens sy vertrek.
“Deur hierdie spesialisopleiding kan lede nou aktief lewensbelangrike werk in hul gemeenskappe doen en vinnig noodsituasies hanteer wanneer helikopterondersteuning noodsaaklik is vir ’n pasiënt se oorlewing,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
AfriForum se Alberton- en Edenvale-buurtwagte is opgewonde om sy lede aan Rocket Hems beskikbaar te maak wanneer dié noodreddingsdiens voete op die grond benodig. “Dit is prysenswaardig dat hierdie buurtwaglede vrywilliglik hul tyd en toewyding gegee het om hul gemeenskappe beter te dien,” voeg Olckers by.
Kontak AfriForum se Alberton-tak by 076 329 8697 of AfriForum se Edenvale-tak by 082 920 0434 om vandag nog by die burgerregteorganisasie betrokke te raak.