AfriForum geskok oor DA-minister en DBO se planne om oud-Model C-skole eerste met Bela te teiken
AfriForum spreek sy skok en teleurstelling uit met die bekendmaking gister (2 Desember) tydens ’n sitting van die portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys dat die DA-minister, Siviwe Gwarube, en haar departement nou skynbaar oud-Model C Afrikaanse skole eerste gaan teiken om hul taalbeleid te verander.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die minister en van die amptenare van die Departement van Basiese Onderwys die afgelope tyd groot gewag gemaak van die noodsaak van moedertaalonderrig. Uit die inligting wat gister aan die portefeuljekomitee voorgelê is, is dit egter duidelik dat die agenda teen enkelmedium Afrikaanse onderrig, waarvoor die sogenaamde Bela-wet ’n basis vorm, deur die ingesteldheid van die departement se amptenare voortgedryf sal word.
Dit is ook nou al amper ’n jaar wat AfriForum en die Solidariteit Beweging tevergeefs vir die beoogde regulasies oor taalbeleid wag. Dit sou gepubliseer word om misbruik, soos die teikening van Afrikaanse skole, te voorkom, maar daar is nog geen teken dat dit binnekort vir kommentaar beskikbaar sal wees nie.
“AfriForum versoek ook dat die DA nou vir eens en altyd duidelik maak waar dit staan wat Bela aanbetref. Aan die een kant verklaar die minister dat moedertaalonderrig geen probleem is nie, maar aan die ander kant lig sy en senior bestuurders van die departement die portefeuljekomitee in dat Afrikaanse skole toenemend Engelse onderrig begin aanbied, asof dit ’n prestasie is. Van die amptenare insinueer ook weer dat taalbeleide wat moedertaalonderrig beskerm, maatreëls is om te diskrimineer en uit te sluit, hoewel selfs internasionale liggame soos Unesco herhaaldelik beklemtoon dat moedertaalonderrig juis inklusiwiteit en respek tussen gemeenskappe bevorder, asook kulturele erfenis en tradisies bewaar,” beklemtoon Bailey.
Bailey spreek verder misnoeë uit met die feit dat die ouers in oud-Model C-skole reuse finansiële bydraes tot die effektiewe funksionering van dié skole lewer, maar dan deurentyd aan politieke teikening met voorskrifte en dreigemente van departementele amptenare onderwerp word.
“Dit is hoog tyd dat die minister en haar amptenare hulle agenda teen Afrikaans laat vaar en meer outonomiteit vir funksionele skole gee. Tans presteer enkelmedium Afrikaanse skole, weens moedertaalonderrig in bevorderlike kulturele omstandighede, ten spyte van die departement. Meer kinders uit alle taalgemeenskappe in die land behoort toegang tot hoëgehalte enkelmedium moedertaalonderrig kry, in plaas daarvan dat dié instellings met afgewaterde moedertaalgebaseerde veeltalige onderwys geplaas word op ’n pad wat onvermydelik by enkelmedium Engelse onderrig gaan eindig,” sluit Bailey af.



