|

Landbougemeenskappe kort ook SAPD-beskerming teen misdaad, sê AfriForum

AfriForum se Witrivier-tak het op 19 Maart ’n omvattende opname vir Laeveldse landbougemeenskap van stapel gestuur om polisiëring in dié landelike gebiede op te skerp. Hierdie inisiatief spruit uit ’n toenemende bekommernis oor die hoë vlakke van misdaad in landelike gebiede – soos veediefstal, plaasaanvalle, stropery en die diefstal van toerusting – en die gebrek aan doeltreffende reaksie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Volgens die tak se waarnemings en terugvoer van plaaslike boere, word die oorgrote meerderheid misdade in landbougemeenskappe nie meer by die SAPD aangemeld nie. Slagoffers voel dit is nutteloos om misdade aan te meld, aangesien daar min tot geen optrede van die SAPD af volg. Hierdie situasie ondermyn nie net die veiligheid van boere en plaaswerkers nie, maar dra ook by tot ’n klimaat van wetteloosheid in landelike gebiede.

“Boere voel dat hulle aan hul eie lot oorgelaat is. As gemeenskapstruktuur wil ons vir hierdie boere ’n spreekbuis wees,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld. “Ons het besluit om self data van die mense op voetsoolvlak in te samel, sodat ons konkrete feite het waarmee ons polisiëring in landelike gebiede kan eis en verbeter.”

Die opname vra vir besonderhede oor die tipe misdaad, waar dit plaasgevind het, of dit aangemeld is en wat die SAPD se reaksie was – indien enige. Hierdie inligting sal verwerk word in ’n verslag wat aan plaaslike en provinsiale polisiehoofde oorhandig word. Indien nodig, sal die data ook aangewend word om druk op nasionale vlak uit te oefen.

AfriForum verseker dat alle inligting vertroulik hanteer sal word. Deelnemers aan die opname het die opsie om anoniem te bly, alhoewel kontakbesonderhede nuttig is vir navrae of opvolgprojekte.

Hierdie opname vorm deel van AfriForum se breër veldtog vir plaasveiligheid en geregtigheid vir slagoffers van misdaad in die Laeveld-landbougemeenskappe. Insamewerking met plaaswagte, buurtwagte en ander rolspelers, poog AfriForum om die stemme van landelike gemeenskappe te versterk.

“Dis jou grond en jou reg om deur die polisie beveilig te word. Dis tyd dat die regering en die polisie hul grondwetlike pligte begin nakom om landbougemeenskappe teen misdaad te beskerm,” sê Van Heerden.

AfriForum moedig almal in die landbousektor aan – van kleinskaalse produsente tot groot boere – om die opname te voltooi en saam te werk aan ’n veiliger toekoms vir boere in Suid-Afrika.

Klik hier om die opname te voltooi.

Soortgelyke plasings