| |

AfriForum kikker Thabazimbi op vir jaarlikse Bosveld-interhoër

Ter voorbereiding vir die 61ste Bosveld-interhoër wat vanjaar op 22 Februarie by die Hoërskool Frikkie Meyer plaasvind, het die AfriForum-tak in Thabazimbi slaggate op die dorp se paaie begin regmaak. Meer as 150 sakke teer is reeds in slaggate ingewerk op die roetes wat na die skool lei, om te verseker dat besoekers ’n veilige en aangename ervaring het. AfriForum het hierdie projek in samewerking met verskeie ander plaaslike organisasies aangepak.

Hierdie jaarlikse atletiekbyeenkoms is ’n hoogtepunt op die plaaslike sportkalender en trek duisende besoekers na die pragtige dorp.

Buiten die slaggate wat herstel word, is daar ’n opruimingsaksie in Thabapark, wat tans gebuk gaan onder onwettige vullisstorting. AfriForum se tak is daartoe verbind om die gemeenskap skoon en netjies te hou en vra dus alle inwoners om saam te werk om die omgewing sse netheid te bevorder.

AfriForum het ook ’n brief aan Chuma Mathundi, die bestuurder van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit, gestuur om samewerking aan die verbetering van munisipale infrastruktuur te versoek. AfriForum glo dat samewerking met die munisipaliteit ’n positiewe impak op die gemeenskap kan hê.

Vir verdere inligting of om betrokke te raak by AfriForum in Thabazimbi, stuur ’n e-pos aan Janine van Aardt, die takvoorsitter, by voorsitter.thabazimbi@afriforumtak.co.za of besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings