| | |

Koster-buurtwag se nagpatrollie lei tot twee arrestasies

AfriForum se Koster-buurtwag het op 11 September in die vroeë oggendure daarin geslaag om twee verdagtes aan te keer waar hulle doening was by munisipale infrastruktuur. Die verdagtes het vermoedelik gepoog om koperkabels te steel.

Omstreeks 01:45 het twee buurtwaglede tydens hul patrollie ’n oop mangat opgemerk en stemme vanuit die mangat gehoor. By verdere ondersoek is twee verdagtes binne die mangat aangetref waar hulle vermoedelik aan koperkabels gepeuter het.

Die buurtwaglede het onmiddellik ondersteuning ontbied en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is na die toneel geroep. Ander lede van die Koster-buurtwag het die gebied beveilig en ondersteuning verleen totdat die verdagtes uit die mangat gebring kon word. Albei verdagtes is daarna in hegtenis geneem en na die polisiestasie geneem.

“Hierdie voorval wys waarom gereelde patrollies só belangrik is. Ons lede was op die regte tyd op die regte plek en kon vinnig optree voordat verdere skade moontlik aan noodsaaklike infrastruktuur aangerig is. Dit is ’n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word wanneer gemeenskapslede bereid is om verantwoordelikheid vir die veiligheid van hul dorpe te neem,” sê Henry Olckers, buurtwagleier by AfriForum se Koster-tak.

Ná die arrestasies het buurtwaglede, met toestemming van die SAPD, na die toneel teruggekeer om moontlike bewysmateriaal te herwin wat in die mangat agtergelaat is. ’n Handgedrewe saag, syknipper, handskoene en ’n sak wat moontlik met die verdagtes verbind kan word, is herwin en aan die SAPD vir verdere ondersoek oorhandig.

Volgens die aanvanklike beoordeling is slegs minimale skade aan die infrastruktuur aangerig.

“Die beskerming van noodsaaklike infrastruktuur raak elke inwoner. Koperdiefstal en vandalisme kan gemeenskappe sonder basiese dienste laat en groot herstelkoste tot gevolg hê. Die vinnige optrede van die Koster-buurtwag en goeie samewerking met die SAPD het in hierdie geval daartoe bygedra dat twee verdagtes aangekeer en moontlike bewysmateriaal herwin kon word,” sê Rika van Staden, voorsitter van AfriForum se Koster-tak.

AfriForum bedank die Koster-buurtwaglede, SAPD en munisipale personeel wat tydens die voorval saamgewerk het.

Raak vandag nog by AfriForum se Koster-buurtwag betrokke deur Henry Olckers te skakel by 072 182 3097.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid