AfriForum Kempton Park plant bome by Zuurfontein-begraafplaas


AfriForum se Kempton Park-tak het op 12 September vier bome by die Zuurfontein-begraafplaas geplant as deel van AfriForum se Omgewingsmaand-inisiatief. Met dié aksie wil die tak ook die belang van goed versorgde openbare ruimtes in die gemeenskap beklemtoon.
Die tak het een appelkoosboom, twee perskebome en een koelteboom op aangewese plekke binne die begraafplaasperseel geplant.
“’n Begraafplaas is vir baie mense die plek waar hulle ’n geliefde besoek en onthou. Dit is belangrik dat sulke plekke nie afgeskeep word nie. Deur gedurende Omgewingsmaand bome hier te plant, wil ons ’n tasbare bydrae lewer tot die versorging van ’n plek wat vir families besondere betekenis het,” sê André Badenhorst, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.
Die bome sal mettertyd skadu en groenigheid op die begraafplaas bied, mits hulle behoorlik versorg word. AfriForum Kempton Park moedig inwoners aan om ook by die versorging van openbare ruimtes in hul woonbuurte betrokke te raak.



