|

Vermeende onregmatige storting kan omgewingskade in Upington tot gevolg hê – AfriForum

Die vermeende onregmatige ontginning van sand en storting van bourommel en huishoudelike afval by die sogenaamde suidweskruising net buite Upington kan volgens AfriForum wydverspreide omgewingskade tot gevolg hê. Die burgerregteorganisasie het ’n skrywe aan Elias Ntoba, munisipale bestuurder van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit, gestuur waarin daar versoek word dat daar dringend duidelikheid gegee word oor die vermeende onregmatige aktiwiteite op hierdie perseel.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is inwoners en belanghebbendes bekommerd oor die enorme uitgrawings wat agtergelaat is en die gevaar wat die ongereguleerde storting van allerlei vullis inhou.

“Die gemeenskap is nie gekant teen wettige en volhoubare ontwikkeling nie, maar die vermeende verontagsaming van omgewingswetgewing kan nie misgekyk word nie. Vereistes vir die bedryf van ’n vullisterrein is spesifiek daargestel om die langtermyn risiko’s vir die omgewing en gevare tot gemeenskapsgesondheid te beperk ,” sê Strauss.

“AfriForum eis daarom dat die munisipaliteit ’n volledige terreininspeksie onderneem en die betrokke munisipale wetgewing rondom die veilige bestuur van ’n vullisterrein afdwing, indien nodig. ’n Konkrete plan vir die beveiliging en rehabilitasie van die terrein moet ook opgestel word om te verseker dat inwoners en die omgewing beskerm word.”

AfriForum, as ’n voorstander vir burgerregte, sal voortgaan om druk op die munisipaliteit toe te pas. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by dié organisasie betrokke te raak.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf