|

Van paaie tot parke: Dié AfriForum-span pak alles aan

AfriForum se MidWit-buurtspan het gedurende Julie talle projekte aangepak wat die parke en die paaie in Middelburg en Emalahleni (Witbank) verbeter het. Dié span het honderde sakke asfalt gebruik om slaggate op die dorpe te herstel en meer as 10 verskillende parke se gras gesny.

In Middelburg het die buurtspan meer as 10 ton asfalt gebruik om slaggate te herstel. Die grootste slaggate was by Hoërskool Kanonkop, waar ’n waterlek die padoppervlak bykans verwoes het. AfriForum het ingetree om die herstelwerk te doen nadat die hoof se hulpkrete aan die Steve Tswete Plaaslike Munisipaliteit op dowe ore geval het. Hoewel die munisipaliteit die lek herstel het, was die padoppervlak in ’n onrybare toestand gelaat. AfriForum het egter ingespring en meer as 210 sakke asfalt gebruik om die herstelwerk te doen. Die beraamde koste vir die projek beloop meer as R17 000.

Verder het die tak ook 160 sakke koue asfalt gebruik om slaggate in Brakrivier- en Lilacstraat te herstel. Van hierdie slaggate was deur die munisipaliteit gegrawe om herstelwerk te doen, maar nooit weer opgevul nie.

“Dit is kommerwekkend dat Middelburg, wat eens ’n spogdorp was, nes elke ander buurdorp agteruitgaan. AfriForum sal egter nie toekyk hoe inwoners aan die munisipaliteit se nalatig uitgelewer word nie,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.

Die MidWit-buurtspan het benewens dié herstelwerk ook altesaam nege parke en verskeie sypaadjies se gras gesny. Die span het onder meer parke in Aerorand gesny, asook in Dennesig, Mineralia, Kanonkop, Bloekomsig en Gholfsig. Die sypaadjies in Clubville is gesny en opgeruim, asook die sypaadjies op Sondagsrivier- en Spekboomstraat in Aerorand. ’n Skoonmaakprojek is boonop by Lume Dei Skool en buite Laerskool Staatspresident CR Swart van stapel gestuur. Altesaam 1,7 hektaar se gras is gesny, wat uitgeloop het op meer as 160 sakke se tuinvullis.

In Emalahleni (Witbank) het die buurtspan voortgegaan om slaggate te herstel nadat die groot projek in Duikerstraat einde Junie voltooi is. ’n Verdere 215 sakke koue asfalt is gebruik om 93 slaggate in Emalahleni te herstel. Die slaggate om HTS Witbank het alleenlik 126 sakke asfalt in beslag geneem. Die strate om die skool was byna onbegaanbaar en het erge vertragings veroorsaak. Daar is ook 83 sakke asfalt gebruik in Erasmusstraat en vyf sakke in Verweystraat.

Verdere skoonmaakprojekte is in Emalahleni van stapel gestuur. Die buurtspan het die gras  by die voetbrug op Long Tom- en Alexanderstraat gesny, asook by verskeie parke soos dié op Bonsai- en Duikerstraat, Booyongweg, Dora- en Annieweg en die park op Steenkampstraat. Meer as 90 sakke tuinvullis is verwyder nadat die projek afgehandel is.

“Ons span is nou gevestig en die verskille raak sigbaar vir almal. Orals waar jy ry sien jy verskille wat die buurtspan maak. Ons moedig mense aan om by ons aan te sluit sodat ons die inisiatief verder kan uitbrei,” sê Sarel van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum te ondersteun.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf