AfriForum-tak hard aan die werk om Vryburg op te knap
Terwyl talle dorpe onder swak instandhouding gebuk gaan, neem die AfriForum-tak in Vryburg self verantwoordelikheid vir sy omgewing. Gerat met grassnyers en ’n houding van selfdoen is beter as niksdoen, het hierdie tak oor die afgelope twee maande onverpoos gewerk om Vryburg skoon en netjies te hou.
Die tak het meer as ses leë erwe in die dorp skoongemaak, insluitend in Sablestraat en Wyk 7 waar oop velde en sypaadjies skoongesny is. Die gras by die konsentrasiekampbegraafplaas en park is ook weer gesny. Die instandhouding van dié park laat kinders toe om daagliks daarvan gebruik te maak. AfriForum het verlede jaar die klimrame oorgeverf om dit so netjies as moontlik te hou.
Die tak het oor die afgelope twee maande meer as vyf hektaar se gras gesny en gaan steeds voort om hierdie soort aksies aan te pak. Die doel is om in die toekoms ’n buurtspan daagliks beskikbaar te hê om meer probleme op die dorp die hoof te bied. Die tak het daarom ook ’n sakeontbyt gehou waar die belangrikheid van AfriForum se buurtspan bespreek is.
“Die AfriForum-tak in Vryburg is hard aan die werk om ’n skoon en netjiese dorp vir almal te skep. Dit is uiters belangrik dat sakeondernemings by hierdie projekte betrokke raak om te verseker dat die tak volhoubaar met dit kan voortgaan. As almal saam werk kan Vryburg al hoe beter word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
AfriForum se Vryburg-tak het verskeie projekte in die pyplyn, waaronder die oprigting van nuwe stoptekens. Klik hier om ’n bydra tot die buurtspan te maak.



