|

AfriForum se teenboeliespan swaai leerders van toeskouers tot kampvegters vir geregtigheid

AfriForum het vandeesweek ’n gewone skooldag by Laerskool Brackenfell in ’n treffende sessie van selfrefleksie verander waar leerders en onderwysers toegerus is met praktiese hulpmiddels om boeliegedrag te herken, te voorkom en daadwerklik die hoof te bied. 

Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram, sê leerders is aangemoedig om hulself as kampvegters te sien wat daagliks keuses maak wat ander kan opbou of afbreek. Leerders is uitgedaag om eerlik na hul eie optrede te kyk: nie net as slagoffers of oortreders nie maar veral as toeskouers wat die mag het om die verloop van ’n situasie te verander. 

Die aanbieding het gefokus op die herkenning en aanspreek van boeliegedrag in al sy vorme, asook die ernstige impak daarvan op slagoffers. Leerders is veral bewus gemaak van die rol van toeskouers en hoe stilte of aanmoediging boeliegedrag kan versterk. Praktiese riglyne is gedeel oor hoe om veilig op te tree, ondersteuning te bied en hulp te ontbied.

“Die kultuur van ’n skool het ’n enorme impak op boeliegedrag en wanneer leerders verantwoordelikheid neem, kan dit daadwerklik stopgesit word.  Sodra leerders besef dat hulle eie aksies ’n verskil kan maak aan boeliegedrag rondom hulle, begin hulle doelbewus kies om op te staan vir wat reg is en word hulle aktiewe bouers van ’n veilige skoolkultuur,” sê Erasmus.

Lee-Anne Botes, maatskaplike werker by Laerskool Brackenfell, sê die kompleksiteit van boeliegedrag is kreatief benader en het ’n diep impak gemaak. “Die beeld van die volle wapenrusting [van God] gee vir leerders iets tasbaars om aan vas te hou en dit maak die boodskap nie net verstaanbaar nie, maar prakties uitvoerbaar.”

Hierdie besoek vorm deel van AfriForum se volgehoue missie om skole te ondersteun met die aktiewe bekamping van boeliegedrag en die skep van veilige skoolomgewings. AfriForum moedig skole landwyd aan om deel te word van hierdie inisiatief en saam te werk om boeliegedrag daadwerklik die hoof te bied.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf