AfriForum stel kuberveiligheidsgids bekend om Suid-Afrikaners teen groeiende kubermisdaad te beskerm
AfriForum het vandag ’n praktiese en omvattende kuberveiligheidsgids bekendgestel wat daarop gemik is om die publiek toe te rus met die nodige kennis om hulself teen die toenemende bedreiging van kubermisdaad te beskerm.
Die gids kom te midde van ’n skerp toename in kubermisdaad in Suid-Afrika, waar miljarde rand jaarliks deur bedrog en aanlyn misdaad verlore gaan. Volgens die gids bied uitvissing (in Engels bekend as phishing) steeds die grootste bedreiging. Dié tipe kubermisdaad is verantwoordelik vir die meerderheid van aanlyn bankbedrog, terwyl nuwe tegnologie soos kunsmatige intelligensie (KI) dit vir misdadigers nou selfs makliker maak om slagoffers te mislei.
AfriForum se kuberveiligheidsgids fokus op die mees algemene vorme van kubermisdaad wat Suid-Afrikaners raak, insluitend uitvissing, SIM-ruilbedrog, bank- en selfoontoepbedrog, beleggingsbedrog en sogenaamde deepfake-bedrog. Die gids bied ook praktiese wenke oor hoe om hierdie bedreigings te identifiseer en te vermy.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is die doel van die gids om mense weerbaar te maak in ’n digitale omgewing waar misdaad al hoe meer gesofistikeerd raak.
“Kubermisdaad raak vandag bykans elke persoon in die land – of dit nou deur ’n bedrieglike boodskap, ’n oproep of ’n vals beleggingsgeleentheid is. Wat hierdie gids probeer doen, is om mense toe te rus met eenvoudige, praktiese stappe wat hulle onmiddellik kan toepas om hulself te beskerm,” sê Broodryk.
Hy waarsku verder dat kubermisdadigers toenemend staatmaak op manipulasie en dringendheid om slagoffers te mislei.
“Die werklikheid is dat die meeste kubermisdaad nie deur tegniese kuberkrakery plaasvind nie, maar deur mense te oorreed om self hul inligting of geld oor te gee. Daarom is bewustheid en waaksaamheid jou eerste en belangrikste verdedigingslinie.”
Die gids beklemtoon kerngewoontes wat ’n groot verskil kan maak, soos om nooit wagwoorde of eenmalige PIN-nommers te deel nie, om skakels en QR-kodes met agterdog te benader, en om altyd finansiële besonderhede deur ’n tweede kanaal te verifieer voordat betalings gemaak word.
AfriForum moedig die publiek ook aan om vinnig op te tree indien hulle vermoed dat hulle slagoffers van kubermisdaad geword het, insluitend om hul bank onmiddellik te kontak, hul wagwoorde te verander en die misdaad by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld.
AfriForum sal voortgaan om bewusmaking te skep oor kubermisdaad en die publiek te bemagtig met inligting en hulpmiddels om hulself te beskerm.
“In ’n wêreld waar tegnologie vinnig ontwikkel, moet mense ook hul veiligheidsgewoontes aanpas. Hierdie gids is ’n praktiese hulpmiddel om juis dit moontlik te maak,” sluit Broodryk af.



