AfriForum Onderwys besoek skole; help só gemeenskappe bou
Die AfriForum Onderwys-span het in April vanjaar die pad na die Oos-Kaap gevat om besoek af te lê by skole in dié provinsie met hul teenboelieveldtog en Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie. Skole is die spilpunte van sterk gemeenskappe en AfriForum fokus juis vanjaar op skole om sterker gemeenskappe te bou en sodoende ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika te verseker.
Dié span het met bogenoemde in gedagte ’n verskerpte fokus op die beskerming van skole deur die ontwikkeling en ondersteuning van onderwysers, leerders en ouers. Die besoek aan die Oos-Kaap was die eerste van ses streeksbesoeke wat die AfriForum Onderwys-span vanjaar sal aanpak.
“Met hierdie besoeke beoog die span om soveel as moontlik skole en skoolgemeenskappe te besoek om nie net blootstelling aan AfriForum se skoleprojekte te gee nie maar ook vas te stel waar AfriForum van verdere ondersteuning vir gemeenskappe kan wees,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum.
Boeliegedrag in skole is ’n probleem wat talle kinders raak en nie diskrimineer tussen ryk en arm nie.
Daarom was hierdie besoek aan die Oos-Kaap ’n gulde geleentheid om kinders, onderwysers en ouers toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag te identifiseer en hok te slaan. Teenboeliepraatjies is by vyf skole in drie stede en dorpe aangebied.
“Boeliegedrag in skole móét aangeroer word, want dit steel kinders se selfwaarde, veiligheid en toekoms en daarom is ’n doelgerigte boelieveldtog ’n noodsaaklikheid,” verduidelik Mari-Louise Erasmus, AfriForum Onderwys se noordstreekkoördineerder en aanbieder van dié program.

Volgens Bloem vind leerders aanklank by Matteus, die program se gelukbringer, wat hulle wys hoe om die wapenrusting van God elke dag aan te trek. Leerders kan ook self van die items aantrek en sodoende op ’n interaktiewe, speelse manier leer dat die ware krag nie by die boelie lê nie, maar in die beskerming, waarheid en moed wat hulle van God af kry. Bloem voeg by dat leerders wat self skuldig was aan boeliegedrag ook al gedurende hierdie praatjies tot inkeer gekom het.
Benewens die teenboelie- en kuberboelie-gidse, het die AfriForum Onderwys-span ook vanjaar die boelieboks bekendgestel.
Hierdie bokse stel leerders wat huiwerig is om boeliegedrag direk by ’n onderwyser te rapporteer, in staat om dit op ’n anonieme wyse te rapporteer deur ’n briefie in die boelieboks te sit. Daar is ook meegaande plakkate wat leerders bewus maak van hierdie bokse by hulle skool en om hulle aan te moedig om gebruik te maak daarvan. Daar is ook ’n gids vir ouers beskikbaar wat hulle toerus met vaardighede om hul kinders te ondersteun indien hulle geboelie word en om tekens van boeliegedrag teenoor hul kinders raak te sien.
Die Oos-Kaapse uitdunrondtes van AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie is op 8 April by die Hoërskool Framesby aangebied. Daar was 24 spanne wat aan 39 debatte oor uiteenlopende onderwerpe en temas deelgeneem het. Framesby se junior- en seniorspanne het as wenners uit die stryd getree.
Dié kompetisie sorg jaarliks vir groot opwinding by nuwe sowel as gesoute jong debatteerders. Hierdie kompetisie gee leerders die geleentheid om vinnig op hul voete te dink om hul opponente se argumente te weerlê en moedig leerders aan om hul algemene kennis op te skerp sodat hulle weldeurdagte argumente kan lewer.
“AfriForum is trots daarop om hierdie jaar die tiende bestaansjaar van Dink of Sink te vier en dit is wonderlik om te sien hoe die kompetisie gegroei en uitgebrei het oor die afgelope dekade en dat leerders elke keer steeds opgewonde is om deel te neem,” sê Nicolene Müller, AfriForum Onderwys se suidstreekkoördineerder en koördineerder van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetise.
Hoewel hierdie ’n Afrikaanse debatskompetisie is noem Bloem dat daar in die verlede ook Engels-sprekende leerders was wat in Afrikaans kom debatteer het en baie goed gevaar het.
Volgens Bloem is dit vir haar en haar span ’n riem onder die hart om te sien hoe hartlik hulle by skole ontvang word en hoe dankbaar hulle is vir die projekte wat AfriForum, veral met die oog op skole, aanpak. “Skole is deesdae baie onder druk en hulle het werklik elke bietjie hulp nodig wat hulle kan kry om hulle te ondersteun in die werk wat hulle doen om leerders te onderrig en voor te berei vir die lewe ná skool. Hetsy dit is om ’n teenboeliepraatjie aan te bied of om aan jong debatteerders ’n platform te gee om hul talente ten toon te stel en dit te ontwikkel.”
Die AfriForum Onderwys-span pak binnekort weer hul tassies, dié keer om van 4 tot 8 Mei besoek af te lê in die Wes-Kaap. Stuur gerus ’n e-pos na onderwys@afriforum.co.za om meer oor die onderwysspan se skoolbesoeke uit te vind.



