|

AfriForum beklink beslissende finale oorwinning in Eskom-steenkoolsaak

Klankgreep: Morné Mostert (Afrikaans)

Klankgreep: Morné Mostert (Engels)


AfriForum het pas ’n beslissende en finale oorwinning oor Eskom beklink wat uiteindelik die sluier van geheimhouding oor die kragvoorsiener se steenkoolkontrakte sal lig. Dit kom ná die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein pas Eskom se poging om ’n 2024-hofuitspraak om te keer, met koste van die hand gewys het. Kragtens vandag se uitspraak moet alle aktiewe Eskom-kontrakte met betrekking tot die aankoop, vervoer en verspreiding van steenkool en diesel, en die nutsmaatskappy se kontrakte vir die verskaffing van elektrisiteit aan buurlande aan AfriForum beskikbaar gestel word.

Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het in Maart 2024 Eskom se weiering om ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) toegang tot sy steenkool- en dieselkontrakte te gee, van die hand gewys. Eskom is destyds reeds opdrag gegee om afskrifte van alle betrokke kontrakte aan die burgerregteorganisasie te voorsien. Die kragnutsmaatskappy het hierna die Appèlhof genader en aangevoer dat die weiering van toegang tot die kontrakte gedoen is ter beskerming van kommersieel sensitiewe inligting.

Die hof het egter dié argument van die hand gewys. Hiermee is die Hooggeregshof se bevinding – dat die openbaarmaking van inligting van dié aard ingevolge PAIA-wetgewing toelaatbaar is – herbevestig. Regter Elizabeth Baartman het benadruk dat die publiek, in wie se belang Eskom kontrakte sluit, die reg het om toegang tot die kontrakte te kry. Sy ondersteun voorts die Hooggeregshof se bevinding dat daar geen bewyse is wat die bewerings ondersteun dat die ooreenkomste vertroulik is of kommersieel sensitiewe inligting bevat wat Eskom of derde partye kan benadeel nie.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sal daar nou, nagenoeg vier jaar sedert die organisasie oorspronklik sy PAIA-aansoek hieroor aan Eskom gerig het, uiteindelik ondersoek ingestel kan word om te bepaal of die steenkool- en dieselkontrakte markverwant en wettiglik gesluit is.

“Die verkryging van steenkool is een van Eskom se grootste uitgawes, aangesien meer as 100 megaton steenkool jaarliks ​​aangekoop word. In die lig van gedokumenteerde onreëlmatighede rakende Eskom se verkrygingsprosesse, bevindinge van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping en gedetailleerde tekortkominge in Eskom se eie finansiële state, is deursigtigheid met betrekking tot hierdie kontrakte noodsaaklik,” benadruk Mostert.

AfriForum sal intussen ’n span kundiges saamstel om die kontrakte te bestudeer.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik