AfriForum-Vryheid-tak versoek munisipaliteit om 46 slaggate in Emmettstraat te herstel
Die AfriForum-tak in Vryheid het vandag in ’n brief aan die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit geëis dat 46 slaggate in Emmettstraat, tussen Smal- en Kerkstraat, dringend herstel moet word. Dit volg ná verskeie onsuksesvolle versoeke aan die munisipaliteit om in te gryp.
Net verlede week het ’n voertuig omgeslaan nadat die motoris vir die slaggate op hierdie pad uitgeswaai het. “Dit is uiters swak dat die munisipaliteit nie hierdie slaggate herstel nie. Ons dien gereeld voorstelle vir die jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) in, wat insluit dat die toestand van die paaie dringend aandag moet kry,” sê André van der Walt, AfriForum se voorsitter van die Vryheid-tak.
Luidens finansiële state ontvang die Abaqulusi-munisipaliteit jaarliks ongeveer R138 miljoen aan eiendomsbelasting. Hierdie tipe inkomste is juis daar vir nie-faktureerbare dienste, soos die herstel van slaggate.
“Ons kan nie meer politici met ons belasting geld vertrou nie. Die oplossing in plaaslike dienste lê in die hande van gemeenskappe. Ons moet self die dienste begin verrig en dan ons uitgawes terugeis van die eiendomsbelasting wat inwoners betaal,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
AfriForum nooi die Vryheid-gemeenskap om by die plaaslike tak betrokke te raak en die organisasie te ondersteun. Besoek https://afriforum.co.za/buurtspanne/vryheid/ om te sien hoe jy kan help.



