| | |

Regstappe wag sou Eskom voortgaan om krag af te sny, waarsku AfriForum

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)

AfriForum het ’n aanmaningsbrief aan Eskom gestuur om te versoek dat die kragreus nie voortgaan daarmee om elektrisiteitsvoorsiening aan dorpe te staak weens agterstallige munisipale skuld nie. Die organisasie voer aan dat Eskom se jongste kennisgewings wetlike tekortkominge het en dat die afdwinging daarvan gevolglik onregmatig sal wees.

Eskom het vroeër vandeesweek kennisgewings aan 14 munisipaliteite uitgereik waarin streng voorwaardes gestel word. Ingevolge hierdie kennisgewings moet munisipaliteite hul uitstaande skuld vereffen of een van drie opsies aanvaar:

  1. Die aanvaarding van ’n raadsbesluit om ’n agentskapsooreenkoms met Eskom aan te gaan, ingevolge waarvan Eskom die verantwoordelikheid vir die verspreiding van elektrisiteit.
  2. Die omskakeling van die munisipaliteit se stelsel na ’n voorafbetaalde model, waarvolgens die munisipaliteit slegs elektrisiteit sal ontvang waarvoor vooruit betaal is.
  3. ’n Ooreenkoms ingevolge waarvan munisipale inwoners hul elektrisiteitsrekeninge direk aan Eskom betaal en teen Eskom se tariewe gehef word.

AfriForum waarsku dat die implementering van ’n voorafbetaalde stelsel ernstige gevolge kan hê. “Indien munisipaliteite na ’n voorafbetaalde stelsel oorgeskakel word, is dit hoogs waarskynlik dat hulle nie voldoende elektrisiteit sal kan aankoop om ’n dorp vir ’n volle maand van krag te voorsien nie. Die kwesbaarste lede van gemeenskappe, insluitend bejaardes en pasiënte in hospitale, sal die swaarste getref word. Water- en rioolinfrastruktuur kan tot stilstand kom, wat ’n humanitêre en infrastruktuurramp kan veroorsaak. Daarbenewens word inwoners wat hul rekeninge getrou betaal, onregverdig benadeel,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Volgens AfriForum is dit eweneens nie finansieel haalbaar vir munisipaliteite om elektrisiteitsrekeninge volledig aan Eskom oor te dra nie. “Die verkoop van elektrisiteit vorm ’n kernkomponent van baie munisipaliteite se inkomste. Indien hierdie inkomste wegval, kan munisipaliteite se finansiële strukture binne ’n kort tydperk ineenstort,” voeg Steffens by.

AfriForum meen Eskom is bewus daarvan dat munisipaliteite in praktyk slegs een oorblywende opsie het, naamlik die sluiting van ’n agentskapsooreenkoms. Hoewel sodanige ooreenkomste moontlik ’n werkbare oplossing kan bied, moet dit streng volgens die voorskrifte van die wet geskied. In die huidige omstandighede word munisipaliteite egter onder druk geplaas om sodanige ooreenkomste te sluit sonder behoorlike nakoming van wetlike vereistes.

Ingevolge artikel 78 van die Wet op Munisipale Stelsels 32 van 2000 moet ’n munisipaliteit wat ’n eksterne diensverskaffer wil aanstel, eers ’n uitvoerbaarheidstudie doen en ’n behoorlike openbare deelnameproses volg. AfriForum voer aan dat Eskom se kennisgewings nie munisipaliteite voldoende geleentheid bied om aan hierdie wetlike vereistes te voldoen nie.

“Deur munisipaliteite met onrealistiese opsies te konfronteer sonder om ruimte te laat vir wetlike prosesse, plaas Eskom hulle onder onbillike druk en sluit dit gemeenskappe uit van deelname aan besluite wat hulle raak. Die uiteinde hiervan kan wees dat Eskom, wat self al aan finansiële bestuursuitdagings blootgestel is, ’n nog groter monopolie in Suid-Afrika verkry en ander rolspelers in die mark uitsluit,” meen Morné Mostert, hoof van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Die organisasie wys daarop dat die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2000 bepaal dat enige verandering in ’n lisensiehouer se verspreidingsverantwoordelikhede deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) goedgekeur moet word.

AfriForum het daarom ook ’n skrywe aan NERSA gerig waarin die volgende bevestigings en ondernemings versoek word:

  • Bevestiging of NERSA skriftelike goedkeuring aan enige munisipaliteit verleen het om sy elektrisiteitsretikulasiedienste aan Eskom af te staan, oor te dra en/of toe te wys ingevolge ’n verspreidingsagentskapsooreenkoms.
  • ’n Onderneming dat NERSA sy bevoegdhede ingevolge die Elektrisiteitsreguleringswet sal uitoefen deur te verhoed dat Eskom en enige munisipaliteit ’n verspreidingsagentskapsooreenkoms sluit sonder om die wetlike vereistes wat geld vir die aanstelling van ’n eksterne diensverskaffer na te kom.  

“NERSA is veronderstel om ’n sentrale rol in hierdie scenario te speel, maar skitter weereens in hul afwesigheid. Een van NERSA se hooffokusse moet wees wat lisensiehouers doen met hul verantwoordelikheid, onder meer die verspreiding van krag,” sluit Mostert af.

AfriForum beklemtoon dat daar verskeie ander bevoegde maatskappye is wat verspreidingsagentskapsooreenkomste suksesvol kan implementeer. Volgens die organisasie belemmer Eskom se huidige benadering egter billike mededinging en plaas dit munisipaliteite en gemeenskappe in ’n benarde posisie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf