|

Laerskoolleerders toon hul sprekerstalent by eerste Dink of Sink-kompetisie van die jaar

AfriForum se Dink of Sink-span het op 6 Februarie sy eerste onvoorbereidedebatskompetisie vir die jaar by Hoërskool Montana aangebied. Altesaam 72 leerders van agt laerskole in en om Pretoria het die kans gehad om hul vaardighede op die proef te stel en mee te ding om dié been van die kompetisie te wen.

Altesaam 24 spanne van Laerskool Anton van Wouw, Laerskool Constantiapark, Laerskool Hennopspark, Laerskool Louis Leipoldt, Laerskool Rynfield, Laerskool Wonderboom, Laerskool Concordia en Laerskool Pretoria-Oos het elk drie debatte gevoer oor verskeie onderwerpe wat wissel van onderrig tot die omgewing.

“Die leerders het hul vaardighede en selfvertroue duidelik ten toon gestel deur goed gestruktureerde argumente te voer, logiese redenasies te gebruik en sterk teenargumente te lewer. Talle debatteerders het ’n indrukwekkende vernuf vir debat getoon deur hul selfversekerde lyftaal, duidelike stemprojeksie en entoesiastiese benaderings tot hul standpunte,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

Laerskool Louis Leipoldt (span 1) se René Ferreira, Nina Nell en Helena Schabort is aan die einde van al die debatte as die wenners aangewys, terwyl Laerskool Rynfield (span 1) se  Hendré van der Westhuizen, Callum Craig en Luther du Randt as naaswenners uit die stryd getree het.

“Die laerskooldebatteerders het beïndruk met hul indrukwekkende vernuf vir openbare redevoering. Ons is opgewonde om te sien hoe hierdie kompetisie verder groei en jong sprekers help ontwikkel,” sluit Müller af.

Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit ook noodsaaklike vaardighede aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroep sal bevoordeel. In 2024 het AfriForum besluit om die kompetisie na laerskole in Gauteng uit te brei, wat graad 6- en 7-leerders nou ook die geleentheid gee om deel te neem.

AfriForum bedank graag vir Akademia as borg, asook AfriForum TV, Forum Nuus en Netwerk24 as mediaborge.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners