|

AfriForum-tak skenk R10 000 aan Hoërskool Hugenote, maak belegging in toekoms van landbou

Dekfoto: Nadia Olckers (AfriForum-distrikskoördineerder vir die Oos-Rand), Jacques Moorcroft (hoof van Hoërskool Hugenote) en Petro Kirton (voorsitter van AfriForum se Springs-tak).

AfriForum se Springs-tak het vandag ’n skenking van R10 000 aan die Hoërskool Hugenote oorhandig en maak daarmee ’n waardevolle belegging in die toekoms van die jeug en landbouontwikkeling in dié gemeenskap. Dié skenking sal onder meer ’n bydrae maak tot die ontwikkeling van Landboutegnologie as vak by Hugenote wat vanaf 2026 as keusevak vir graad 10- tot 12-leerders aangebied sal word.    

Volgens Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, sal die skenking ’n reusebydrae maak tot Hugenote-leerders se blootstelling aan landboutegnologie. “Die skenking sal gebruik word om die nodige hulpmiddels en toerusting te koop wat leerders hier op ’n akademiese en praktiese vlak sal bevoordeel. Dit dien uiteindelik as ’n vermenigvuldiger en ’n belegging in die toekoms van Springs se jeug,” verduidelik sy. “Skole staan aan die kern van gemeenskappe en met hierdie skenking bou AfriForum nie net aan die skool en die leerders se toekoms nie, maar ook aan dié van die gemeenskap en dorp.”

Jacques Moorcroft, hoof van Hoërskool Hugenote, beklemtoon dat die gemeenskap en  AfriForum se skenking die aanpak van Landboutegnologie as vak by dié skool moontlik maak. “Die belangstelling in hierdie nuwe geleentheid is ongelooflik en ons is opgewonde om te kan sê dat 85 leerders reeds ingeskryf het om in 2026, ons eerste jaar van aanbieding, met Landboutegnologie te begin. Dit bevestig die groot behoefte aan ’n praktiese vakrigting waarin tegnies ingestelde leerders kan uitblink en toegerus word vir naskoolse werksgeleenthede in die tegniese en landboubedryf. Hugenote is uiters dankbaar vir die donasie en spreek die grootste waardering uit teenoor AfriForum en almal wat betrokke is,” verduidelik Moorcroft.

Die Springs-tak se betrokkenheid by Hoërskool Hugenote sal boonop aanstaande jaar uitgebou word, verduidelik Olckers. Een van die eerste projekte wat in die vooruitsig gestel word, is die oprigting van ’n noordwaterpunt wat ’n kritieke bydrae tot watervoorsiening aan inwoners van die gemeenskap sal bied ten tyde van wateronderbrekings.

AfriForum se Springs-tak is intussen steeds by verskeie uiteenlopende projekte in dié dorp betrokke en pak gemeenskapsveiligheid en opknappingsaksies met mening aan. Gedurende Augustus het dié tak se buurtwagspan reeds meer as 2 100 km gepatrolleer en nagenoeg 180 ure se diens gedoen en in Julie in samewerking met plaaslike wetstoepassers, nooddienste en ander rolspelers aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem om sigbaarheid te verhoog. In Augustus het die tak ook saam met die plaaslike brandweer en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ingespring om ’n veldbrand in Strubenvale te blus, terwyl ’n projek vir die opknapping van die Springs-rugbyklub se terrein en skoonmaakaksies by parke in die dorp deurlopend aangepak word. Daarbenewens is die instandhouding van die eendedam in die George Sutterpark in Selectionpark nóg ’n projek waarby die Springs-tak sedert 2021 deurlopend betrokke is en wat van die begin van die jaar af teen ’n koste van nagenoeg R23 000 opgeknap is.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf