|

AfriForum wend hom tot Groen Skerpioene oor Williston-vullisterrein

AfriForum se Williston-tak is genoop om die Groen Skerpioene se hulp in te roep oor die toestand van die Williston-vullisterrein ná die Williston Plaaslike Munisipaliteit herhaaldelik sy plig versaak.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Kalahari, het ondersoek ingestel oor die toestand van hierdie terrein ná verskeie klagtes van plaaslike inwoners. Verskeie omgewings- en gesondheidsrisiko’s is geïdentifiseer:

  • Die vullisterrein word nie onderhou of skoongemaak nie.
  • Daar is ’n tekort aan vullisverwyderingsvoertuie en stootskrapers.
  • Inwoners stort noodgedwonge vullis in oop velde aangesien die terrein nie funksioneel is nie.
  • Dierekarkasse en motorbande word op die terrein gedeponeer, wat ernstige gesondheidsgevare inhou en die brandgevaar verhoog.
  • Toegangspaaie na die terrein is in ’n swak toestand, wat bydra tot onwettige storting van vullis.
  • ’n Netwerk van boorgate, wat noodsaaklike water aan die gemeenskap voorsien, is baie naby die vullisterrein en kan deur besoedeling bedreig word.
  • Daar is mense wat op die vullisterrein woon wat dit ook uitdagend maak vir die gemeenskap om hulle vullis daar te gaan stort.
  • Daar is geen toegangsbeheer nie.
  • Die vullisterrein is glad nie omhein nie so die vullis waai die veld vol.

“Die huidige situasie is totaal onaanvaarbaar. AfriForum het op verskeie geleenthede probeer om in gesprek te tree met die munisipaliteit, maar dit blyk of die munisipaliteit tevrede is met die toestand van hierdie vullisterrein. Ons het nou die Groen Skerpioene genader om te help sodat ons die vullisterrein weer in ’n aanvaarbare toestand kan kry,” sê Strauss.

Volgens Strauss skend die swak bestuur van die vullisterrein inwoners se grondwetlike reg op ’n gesonde omgewing. AfriForum sal daarom voortgaan om druk toe te pas totdat die gemeenskap van Williston die dienslewering ontvang waarop hulle geregtig is.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf