AfriForum help haweloosheidsprobleem in Durbanville pak ná peiling kommer opper
AfriForum se Durbanville-tak het die afgelope week die bevindings van ’n meningspeiling oor die haweloosheidsprobleem in die Durbanville-omgewing aan die Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit oorhandig in ’n poging om dié komplekse probleem te help pak. Die meningspeiling, waaraan nagenoeg 300 inwoners deelgeneem het, bied waardevolle insigte oor die gemeenskap se persepsie van die situasie, die gevolge daarvan en die metro se reaksie daarop. Die burgerregteorganisasie het hiermee saam tendense uitgelig wat betekenisvolle en effektiewe reaksies op haweloosheid in Durbanville kan inlig.
Die peiling toon dat inwoners toenemend bekommerd is oor die haweloosheidsprobleem in Durbanville en dat 83% van die respondente ’n toename in die aantal hawelose individue oor die afgelope 12 maande waargeneem het. Baie respondente (82%) glo boonop dat die teenwoordigheid van haweloses tot misdaad in die gebied bydra.
Altesaam 73% van die respondente is dit eens dat die metro nie die haweloosheidsprobleem voldoende hanteer nie. Helfte van die respondente is egter van mening dat al hoe dié situasie prakties en volhoubaar die hoof gebied gaan word is deur samewerking tussen die plaaslike regering, gemeenskapsorganisasies en ander rolspelers.
AfriForum erken dat haweloosheid in die metro ’n komplekse probleem is, daarom het die burgerregteorganisasie ook sy bereidwilligheid bevestig om aktief betrokke te wees by die ondersteuning van bestaande programme en die fasilitering van gemeenskapsbetrokkenheid. Die doel is om te verseker dat hulp aan haweloses gebied word, terwyl die welsyn van die breër gemeenskap beskerm word.
“AfriForum wil saam met die metro en die gemeenskap werk om die uitdaging van haweloosheid daadwerklik die hoof te bied – nie net om mense in nood te ondersteun nie, maar om ook die gevolge op veiligheid en die plaaslike ekonomie te beperk. Samewerking is die sleutel tot volhoubare oplossings en ons staan gereed om ons ervaring en kundigheid beskikbaar te stel om hierdie uitdaging op ’n praktiese en verantwoordelike wyse aan te pak,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus.
Deur verbeterde samewerking, gemeenskapsveiligheid en die ontwikkeling van volhoubare oplossings kan daar ’n positiewe impak op die lewens van hawelose individue gemaak word terwyl die belange van die breër gemeenskap beskerm word. AfriForum is daartoe verbind om die metro by te staan en doen ’n beroep op die gemeenskap om by AfriForum se strukture in Durbanville betrokke te raak. Besoek sluit-aan.afriforum.co.za vir meer inligting.