Skeer inwoners én Govan Mbeki-amptenare met munisipale skuld onder dieselfde kam, eis AfriForum
Terwyl AfriForum onverpoos voortgaan om druk op die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit toe te pas om nie net inwoners nie maar óók raadslede en amptenare vir hul agterstallige munisipale rekeninge te straf, is die plaaslike gemeenskap net so keelvol vir dié onregverdige behandeling.
Inwoners van Bethal het op 15 Augustus na die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se kantore opgeruk en ’n memorandum oorhandig. Die memorandum dui die gemeenskap se misnoeë aan rakende die hoë elektrisiteitskoste sowel as die munisipaliteit se drakoniese veldtog om skuld in te vorder. Die munisipaliteit blokkeer inwoners met agterstallige munisipale rekeninge se voorafbetaalde kragmeters en verplig hulle om eers hul rekeninge te vereffen, ten spyte daarvan dat raadslede en amptenare in die munisipaliteit ook buitensporige hoë uitstaande balanse op hulle rekeninge het.
AfriForum het op 12 Augustus ’n skrywe aan die Govan Mbeki-munisipaliteit gerig waarin geëis word dat raadslede en amptenare dieselfde behandeling as inwoners ontvang. Die organisasie het ook ’n lys name van die amptenare en raadslede met hoë bedrae skuld, oorhandig.
“Ons eis dat raadslede en amptenare met hoë agterstallige rekeninge ook verplig word om in die donker te sit. Ons is moeg daarvoor dat inwoners minder geag word, terwyl amptenare en raadslede hulself verskoon van enige finansiële verpligtinge,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
AfriForum was al in September 2024 met die munisipaliteit in gesprek oor hierdie kwessie, waarna beloof is om aksie te neem teen die skuldige partye in die munisipaliteit. Op daardie stadium het die gesamentlike rekening van amptenare en raadslede met agterstallige munisipale skuld al meer as R300 000 beloop. Luidens die jongste munisipale verslag wat in Maart vanjaar vrygestel is, is die totale uitstaande bedrag nou meer as R700 000, ondanks die feit dat daar op die dokumentasie aangedui is dat daar skulderkennings-ooreenkomste met die betrokke persone aangegaan is.
Hierdie skrywe loop hand aan hand met ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) wat AfriForum einde Julie aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gerig het om inligting te bekom oor wat die skuldooreenkomste behels en waarom die implementering daarvan klaarblyklik nie suksesvol is nie. Verder is daar ook geëis dat die munisipaliteit verduidelik waarom sekere van hierdie skuldenaars meer as een rekening in hul naam het en waarom die uitstaande balans tussen hierdie verskeie rekeninge geskuif word. Dit wil vir AfriForum voorkom asof amptenare die bedrae rondskuif in ’n poging om hul name van die skuldenaarslys te verdoesel.
Tot vandag toe het AfriForum geen terugvoer op die aansoek of die brief ontvang nie.
Klik hier om AfriForum te help om druk op die Govan Mbeki-munisipaliteit toe te pas.