12 ton voer na Boesmanland-boere onderweg te midde van verwoestende droogte

Terwyl swaar reënbuie die afgelope tyd oor groot dele van Suid-Afrika toegesak het, het daar nog geen betekenisvolle reën in Williston en die omliggende gebiede geval nie. Die ernstige droogte het reeds verwoestende gevolge vir boere, hul gesinne en plaaswerkers gehad. AfriForum en Saai het daarom 12 ton voer vandeesweek aangekoop, wat binnekort aan boere in hierdie omgewing afgelewer gaan word.

Die voortslepende droogte het reeds talle boere gedwing om hul arbeidskoste drasties te sny. Waar ’n plaas tipies vier werkers sou aanstel, kan baie boere nou slegs een werker behou en selfs dié werker werk nie meer voltyds nie.

Tarien Cooks (Afrikaans)

“Die boere is in ’n ernstige krisis gedompel wat deur erge droogte meegebring is. Hul vee vrek, hul werkers is hul lewensbestaan kwyt en daar is eenvoudig niks meer om uit te deel nie. AfriForum kon nie toekyk hoe hierdie gemeenskappe stilweg onder ’n droogte heengaan nie,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.

AfriForum het reeds aan die Noord-Kaapse rampbestuursentrum geskryf met ’n versoek dat Williston tot ’n rampgebied verklaar word sodat hulp vinnig ontsluit kan word. Tot op hede is geen antwoord ontvang nie.

Tarien Cooks (Afrikaans)

“Dit laat die boere in die steek op ’n kritieke tyd en dui op ’n ernstige gebrek aan politieke wil om landbougemeenskappe in nood te ondersteun. Dit beteken dat die regering nie net sy rug op boere draai nie, maar ook op plaaswerkers en hul families, wat sonder ’n inkomste moet klaarkom. Die sosio-ekonomiese impak op die gemeenskap is reeds sigbaar en die situasie versleg met elke week wat sonder reën verbygaan,” sê Cooks.

“Wat in Boesmanland plaasvind is nie meer net ’n normale droë siklus nie, dit is ’n volslae bestaanskrisis. Familieboere het reeds hul spaargeld, hul voerreserwes en baie van hul kudde verloor. Sonder gerigte noodhulp gaan ons nie net boerderye verloor nie, maar hele gemeenskappe, skole en plaaswerkers se inkomste,” sê Iné Bester, operasionele bestuurder by Saai.

“Saai koördineer saam met ons vennote die droogtehulp op grondvlak om seker te maak dat noodvoer daar uitkom waar dit die nodigste is. Ons het egter die publiek se samewerking nodig om hierdie boere deur die volgende maande te kry.”

AfriForum en Saai in samewerking met Manna vir die Boere doen ’n dringende beroep op Suid-Afrikaners om die boere in hierdie droogte te ondersteun. Donasies kan aan AfriForum se noodfonds gemaak word:

Bank:                         Eerste Nasionale Bank (FNB)

Rekeninghouer:        AfriForum MSW

Takkode:                   261550

Rekeningnommer:   623 498 98 398

Verwysing:                Droogte

Soortgelyke plasings

Veiligheid